
Dit lyk asof die omstandighede in Ehmkestraat tog gaan verbeter. Die parkie oorkant The Village-winkelsentrum was die afgelope drie maande gereeld in Nelspruit Post weens die onwettige plakkers en snoepwinkels.
Sedert die koerant in Julie hieroor berig het, het die omstandighede al heelwat verbeter, maar daar word steeds twee onwettige snoepwinkels bedryf.
Volgens mnr. Werner le Grange, DA-raadslid in die area, het die munisipaliteit in ‘n vergadering erken dat dit te bang is om die plakkers te verwyder omdat dit nie die kapasiteit het om dit te doen nie. “Hulle wil nou eerder vir handelaars ‘n plek bied waar hulle hierdie snoepwinkels wettig kan bedryf,” sê Le Grange.
Die munisipaliteit is ook in die proses om iemand aan te stel wat permanent met al die onwettige handelaars in die stad sal werk. Le Grange voeg by dat Mbombela groot planne met die parkie het, maar hy kan nie nou daaroor uitbrei nie. Hy kan die gemeenskap ook verseker dat die situasie in die parkie nie sal vereger nie.
Volgens Le Grange het inwoners die parkie skoongemaak.
