SANDTON – Nog ‘n dag in die hof lei na nog ‘n uitsteldatum. Mnr. Derek Poole se bedrogsaak in die Wynberg Landroshof in Gauteng sloer al amper ‘n jaar lank en die saak is hierdie week sowaar weer uitgestel.
Poole staan tereg op bedrogklagtes en sy verhoor sou Maandag en Dinsdag begin het. Hy is in 2013 in die Nasionale Krugerwildtuin gearresteer.
Bronne sê egter dat sy regsverteenwoordigers van LegalAid Maandag laat was omdat hulle ‘n ander saak op ‘n ander plek moes behartig, en om dieselfde rede die verrigtinge Dinsdag nie kon bywoon nie. Die saak moes noodgedwonge weer uitgestel word, hierdie keer tot Maandag 9 Februarie.
Poole staan ook op ‘n klag van bedrog in Hazyview tereg. Daar word aangevoer dat hy as toerbeplanner van ‘n plaaslike maatskappy gebruik gemaak het sonder om te betaal, maar deur ‘n vals bewys van betaling voor te hou. Hy sou Donderdag weer in die hof hiervoor wees, maar teen druktyd was die uiteinde nog nie bekend nie.
Poole word ook in Mbombela van bedrog en aanranding aangekla. Hy het in Augustus, terwyl hy op borgtog uit was, sy hofverrigtinge in al drie howe misgeloop en verdwyn voor hy in September opgespoor en in Durban gearresteer is. Sover het hy sedert sy herarrestasie nie weer in Mbombela verskyn nie. Hy bly in aanhouding.
