Hard news

Oudpastoor van Barberton met erge geval van gangreen bedlêend

'n 95-jarige oudpastoor van Barberton het 'n erge geval van gangreen in sy regterbeen, wat hom tans swak en bedlêend het, en die dokters sê daar is nie veel wat hulle medies vir hom kan doen nie.

’n 95-jarige oudpastoor van Barberton wat erge gangreen in sy regterbeen het, is die week met ’n lykswa van die hospitaal na sy huis geneem omdat die dokter glo geweier het dat ’n ambulans hom vervoer.

Pieter van Niekerk en sy vrou Ellie (85) woon al jare op die plaas Moseley sowat 10 km buite die dorp waar die ou sendingstasie geleë is.

Deesdae word die perseel deur die Barberton Recovery Centre (BRC) as ’n rehabilitasiesentrum vir dwelm- en alkoholverslaafdes gebruik.

Volgens past. Melissa Venter, die sentrumbestuurder, het hulle die eerste keer agtergekom daar is fout met Pieter toe hulle vroeg in Maart by die egpaar besoek gaan aflê het.

“Ons het agtergekom sy regtertoon is pikswart en die wond ruik baie sleg,” vertel sy.

LEES OOK: Mbombela-vrou waarsku oor bloekomolie ná man in hospitaal beland

Hulle het toe gereël om hom in die provinsiale hospitaal te laat opneem.

“Hier het hulle sy toonnael verwyder. Hy was in daardie stadium baie siek.”

Thulani Dlamini en Yolandi Venter van New Era Funerals. > Foto: Verskaf/Janus Venter

’n Paar dae later is hy ontslaan, en met ’n groot gesukkel het hulle hom per motor huis toe geneem.

“Hy is erg oorgewig is, verduur permanent pyn en sit baie moeilik. Tant Ellie het baie gesukkel om hom te versorg, en ons het gereeld een van ons verpleegsters oorgestuur om na sy wond om te sien.”

Om sake te vererger ly Ellie self aan kanker en is sy in die vroeë stadium van demensie.

Venter sê hulle het agtergekom Ellie gee nie haar man sy medikasie nie, en dat hulle partykeer glad nie eet nie omdat sy vergeet om kos te maak. Sedertdien sorg die BRC dat die egpaar elke dag ten minste elk ’n bord kos kry.

Intussen het die wond verder verrot en is meer as die helfte van sy voet reeds pikswart. Die erge infeksie het al verby sy enkel begin trek.

LEES OOK: Seldsame siekte kniehalter dié Mbombela-vrou nie

Sondagaand was Pieter in ’n semikoma en in sulke erge pyn dat hulle ’n ambulans ontbied het om hom hospitaal toe te neem. Daar gekom het die dokter, wie se naam aan Laevelder bekend is, glo gesê daar is niks wat hy vir die bejaarde kan doen nie.

Volgens Venter sê die dokter al wat gedoen kan word is om Pieter se voet te amputeer, maar dat hy te oud en sieklik is om so ’n operasie te oorleef. Hy het pynpille voorgeskryf en Pieter huis toe gestuur.

Drama op drama het hom afgespeel toe die ambulansdiens geweier het om hom huis toe te neem.

“Die ambulansdienste sê hulle mag hom slegs gaan aflaai mits die dokter skriftelike toestemming daarvoor gee. En die dokter het botweg geweier om dit te doen,” sê Venter.

Omdat Pieter nie kan loop of sit nie, was die moontlikheid om hom met ’n motor huis toe te neem buite die kwessie. Uit desperaatheid het hulle Janus Venter, die eienaar van New Era Begrafnisdienste, gekontak.

“Ons is ’n klein gemeenskappie, en as iemand hulp nodig het, wat doen jy? Ons het toe maar ons lykswa gestuur en die oom met behulp van vier mense op ’n draagbaar gelaai,” sê Janus.

Hulle het Pieter by die huis in sy bed oorgetel en in Ellie se sorg gelaat.

“Ek sou verwag dat die gesondheidsdienste darem meer empatie en simpatie teenoor ’n dodelike siek bejaarde sou toon,” sê Melissa.

“Dokters by die provinsiale hospitaal kan slegs ‘n vervoervorm invul om ‘n pasiënt na ‘n ander mediese instansie oor te plaas, nie om hulle huis toe te neem nie. Ambulanse kan slegs pasiënte vanaf ‘n ongelukstoneel of van sy huis na ‘n gesondheidsfasiliteit vervoer,” sê Dumisani Malamule, die woordvoerder vir die gesondheidsdepartement.

Malamule sê die dokters het Pieter ’n binneaarse antibiotikadrup toegedien en hom met ander mondelikse medikasie ontslaan.

“Die mediese beampte het ‘n oproep van ‘n vrou van die Barberton Rehabilitasiesentrum ontvang, wat versoek het dat hy die pasiënt oornag opneem aangesien die gesin hom nie terug huis toe kon neem nie. Die mediese beampte het aan die vrou verduidelik dat volgens kliniese bevindings die pasiënt se opname nie aanbeveel word nie.”

 

Back to top button