Man in aanhouding in verband met Witrivier-rugbyklubskietery
’n Man is in aanhouding ná die voorval op 5 Junie waarin Pieter Burger jr. dood is.
’n Deurbraak is Dinsdag, 17 Junie, in die ondersoek na die dood van 21-jarige Pieter Burger jr. gemaak, toe Marco Schalekamp (42) in hegtenis geneem is.
Lt.kol. Jabu Ndubane het bevestig dat Schalekamp in verband met die voorval in aanhouding is, maar hy is nog nie formeel aangekla nie.
Hy sal na verwagting môre, 18 Junie, in die Witrivier-landdroshof verskyn.
Schalekamp is tydens dieselfde voorval waarin Burger jr. noodlottig gewond is, ernstig beseer.
Die tragedie het in die vroeë oggendure van 5 Junie by die Witrivier Rugbyklub afgespeel ná ’n skermutseling wat later in ’n skietery by die Danie Joubert-aansluiting ontaard het.
Burger jr., ’n jong veeboer en losvoorspeler vir die klub se eerste span, is glo van agter af geskiet, en ’n koeël het sy hart getref.
Die presiese omstandighede rondom die voorval is steeds onbekend.
Volgens inligting wat op sosiale media versprei is, beskik Schalekamp oor uitgebreide ondervinding in sekuriteit en militêre opleiding.
Lees meer: Witrivier moord: Pa soek geregtigheid na seun se dood
Arno van Niekerk, wat ook tydens die voorval geskiet is, is intussen uit die hospitaal ontslaan. Ndubane het bevestig dat slegs een verdagte teen publikasietyd in aanhouding geneem is.
Burger jr. is op Vrydag, 13 Junie, tydens ’n gedenkdiens by Arch & Arrow in Yaverlandweg, te ruste gelê.
Hierdie is ’n ontwikkelende storie en meer inligting sal sodra dit beskikbaar is, gepubliseer word.