Mbombela-instrukteur eers 10 uur ná ongeluk opgespoor
Polisie en sekuriteit het die soektog na die bestuurder afgelas omdat hulle nie die slagoffer naby die ongelukstoneel kon vind nie.

Was dit nie vir die omgee van ‘n sekuriteitsbeampte nie, kon ‘n kritiek beseerde vrou moontlik vir nog langer as 10 uur ná ‘n motorongeluk met ernstige beserings in die veld gelê het.
Angelica Ferreira, ‘n 26-jarige fiksheidsinstrukteur van Mbombela, het ernstige hoofbeserings opgedoen en is tans in ‘n koma in Rob Ferreira Hospitaal.
Ferreira was in die vroeë oggendure van 6 Julie, kort nadat sy ‘n kollega ná ‘n kuier by Innibos afgelaai het, op die KaMagugu-pad in ‘n ernstige ongeluk betrokke.
Met die polisie en sekuriteit se aankoms by die ongelukstoneel, kon hulle niemand opspoor nie en het vermoed die bestuurder het dalk weggeloop.
Lees ook: Deadly shooting sparks looting, arson at Schoonoord pub
Daar is glo rondom die motor gesoek maar toe niemand gevind is nie, het almal vertrek en hulle het opdrag gegee om die voertuig weg te sleep.
‘n Sekuriteitsbeampte het die volgende oggend teruggekeer en die ernstig beseerde Ferreira in die veld ontdek.
Hoe die ongeluk gebeur het, is steeds onduidelik omdat sy alleen in die motor was.
Volgens Antoinette Massyn, haar ma, het sy erge hoofbeserings opgedoen en is aanvanklik in die hospitaal se hoësorgeenheid behandel.

As gevolg van die erns van haar beserings is sy na die neurologiese eenheid oorgeplaas.
Massyn sê Ferreira het hoogs waarskynlik ernstige breinskade opgedoen en moet nou vir intensiewe rehabilitasie na die M-Care-hospitaal oorgeplaas word.
Omdat sy nie ʼn mediese fonds het nie, het haar gesin ‘n befondsingveldtog van stapel gestuur.
Geld kan aan Funds for Angie | BackaBuddy geskenk word.