Lydenburg-seun deur bakkie getref
Adriaan Botha het net Donderdag, 31 Julie, sy agtste verjaardag gevier.
’n Agtjarige seun is beseer toe hy een van die hoofpaaie in Lydenburg probeer oorsteek het en deur ’n bakkie getref is.
Die ongeluk het net voor 09:00 Vrydag, 1 Augustus, in Viljoenstraat voor die Step Foundation plaasgevind.
Adriaan Botha het net gister sy agtste verjaardag gevier en is nog nie eens ‘n maand in die dorp nie.
Die gesin, wat uit Adriaan, sy ma Lee-Ann, haar verloofde Blikkies Blignaut en dié se dogter bestaan, was besig om ’n kospakkie van die Step Foundation te ontvang toe die ongeluk gebeur het.
Dit is ‘n organisasie sonder winsoogmerk wat sedert 2017 vir minderbevoorregte gemeenskapslede in Lydenburg sorg.
Adriaan het sy regterenkel lelik gebreek. Hy is deur omstanders opgetel en op die sypaadjie neergesit, terwyl hulle vir die staatsambulans gewag het.
Hy het vir sy ma gesê dat dit “baie, baie seer is” en dat sy “been deur sy vleis steek”. Lee-Ann het hom verseker dat die paramedici alles moontlik gaan doen om mooi na hom te kyk.
Lydenburg se verkeersdepartement het die toneel beveilig, terwyl die paramedici, wat binne minute opgedaag het, na Adriaan omgesien het en sy been verbind het.
Hy is kort daarna na Lydenburg Hospitaal gehaas vir verdere behandeling en om enige ander beserings vas te stel.
Die bestuurder van die bakkie is erg skok, maar ongedeerd.
Lees ook: Lydenburg-organisasie soek swerwervrou se familie
Blignaut meen dat Adriaan oorkant die pad na sy dogter toe wou gaan. Toe hy die pad wou oorsteek, is hy deur die bakkie getref. “Alles het só vinnig gebeur,” het Blignaut gesê.
“Ons is nog nie eens ’n maand in Lydenburg nie en dit is al die derde slegte voorval wat ons tref,” het hy gesê.
Die gesin kom oorspronklik van Hazyview af, maar nadat Blignaut sy werk as ketelmaker verloor het, het die gesin Lydenburg toe verhuis in die hoop op ’n beter toekoms.
Hulle is tans sonder ’n permanente heenkome en het geen mediese fonds nie. Die gesin is bekommerd oor hoë mediese uitgawes en of Adriaan moontlik na ’n ortopeed verwys sal word.

“Ons probeer nog ons voete vind en nou dié. Bo en behalwe die verlies van my werk, sit ons sonder blyplek. Ek kan ’n eenslaapkamerwoonstel bekostig, maar blyplekke in dié dorp is skaars,” meen hy.
Adriaan is tans in ’n stabiele toestand.
Dit is nie seker of hy na ’n ortopeed verwys sal word of ’n chirurgiese prosedure nodig sal wees nie. Daar is ook nog nie vasgestel of hy enige ander beserings opgedoen het nie.
Indien enigiemand die gesin wil bystaan, kan Hester van Zijl, die stigter van die Step Foundation, by 082 625 9320 gekontak word.
