Maré se swendelary laat talle Laevelders finansieel in die steek
Dié man se kroekery beloop nagenoeg R600 000.
“Hy is welgesproke en glad met sy mond, maar glibberig soos ‘n paling.”
Só sê Saresa Myburgh van Marlothpark nadat sy in Junie 2023 sowat R140 000 verloor het. Sy is haar geld kwyt nadat sy dit aan Daniël Maré oorbetaal het om bouwerk aan hulle huis in dié vakansiedorp te doen.
Die bouwerk wat hy moes aanpak het onder meer kombuiskaste en nuwe vloere in die kombuis en leefarea ingesluit.
Hy moes ook ‘n swembad met ‘n pomp bou, ‘n skuifdeur installeer, ‘n buitebraai afbreek en ‘n nuwe een in die leefarea oprig.
Maré het glo ook ‘n selfoon ter waarde van R7 000 uit haar geswendel waarvoor hy nooit betaal het nie.
Volgens Saresa is haar man, Dieter, wat verstandelik gestremd is, ook deur Maré gekul om R70 000 aan hom oor te betaal. Maré het na bewering vir Dieter vertel dat hy duisende rande sou maak omdat hy toestemming het om sand uit die Krokodilrivier te herwin en te verkoop.
Eenvroustryd om te ontmasker
Sedertdien voer Saresa ‘n eenvroustryd om Maré te ontmasker. Hy het in daardie stadium self in Marlothpark gewoon. Toe sy laat in 2023 van die inwoners begin waarsku het, is sy deur ander slagoffers genader.
Nóg was dit nie die einde nie. Minstens 18 ander inwoners, wat hom na bewering vir dienste en materiaal wat nooit gelewer is nie, betaal het, het na vore gekom. Dit sluit sonkragstelsels in wat hy sou installeer, asook houtpale en ander boumateriaal wat hy sou aankoop. Die beweerde swendelary beloop nagenoeg R600 000.

Toe Marlothpark vir hom té warm raak, het Maré na Sabie uitgewyk.
Saresa het vasgestel dat hy by ‘n restaurant op die dorp werk en het saam met die polisie gegaan om hom te laat arresteer. Dit was toe dat die polisie ontdek het dat daar reeds drie lasbriewe vir sy inhegtenisneming op die SAPD-stelsel bestaan.
Talle lasbriewe en tronkstraf
Dié lasbriewe is in 2012, 2016 en 2021 uitgereik omdat Maré vir bedrog in Boksburg, Edenvale en Brooklyn gesoek word. Hy het in 2023 die Paasnaweek in die polisieselle in Komatipoort deurgebring voordat hy na Brooklyn SAPD oorgeplaas is. Hy is in dié saak skuldig bevind en is in Mei 2024 tot drie jaar tronkstraf gevonnis.
Na sewe maande agter tralies is hy in November 2024 op parool vrygelaat en het na Sabie teruggekeer. Hier het hy vir ‘n wyle as handlanger vir ‘n elektrisiën gewerk. Merwin Gomes het aan Laevelder bevestig dat Maré wel by hom in diens was.
“Ek het gou agtergekom alles is nie pluis nie en het hom afgedank,” sê Gomes.
Judy Brink, ook van Sabie, sê Maré skuld haar R3 000 vir verblyf wat sy aan hom verskaf het.
Kort hierna het Maré sy verskyning in Mbombela gemaak, waar hy by ‘n motorhandelaar ‘n nuwe voertuig met verskeie ekstras bestel het.
Vervalste brief
As bewys dat hy oor die nodige fondse beskik, het hy glo ‘n vervalste brief van die Padongelukkefonds voorgehou waarin aangedui word dat ‘n groot bedrag aan hom uitbetaal sou word.
Laevelder het vasgestel dat sowat R300 000 wel aan hom uitbetaal is, maar reeds in 2022. Die handelaar het intussen vir hom ‘n demonstrasievoertuig geleen.
Toe hy nie ‘n deposito betaal nie, is die koop gekanselleer, en dit het die handelaar twee weke geneem om die voertuig terug te kry.
‘n Tweede handelaar in die stad is glo op dieselfde wyse mislei. Maré het na bewering ook items soos skootrekenaars en sonkragstelsels aan mense verkoop sonder dat dit ooit afgelewer is.
Die ironie is dat hy selfs die vrou van een van sy selmaats in die Baviaanspoort-gevangenis verkul het toe hy ‘n skootrekenaar en wasmasjien aan haar verkoop het. Sy het egter nooit die items ontvang nie.
Maré het intussen ook verloof geraak aan ‘n 24-jarige vrou van die stad. * Lees berig hierna.
‘Doening’ nou in Mbombela
Laevelder het Maandag, 15 Desember, Maré opgespoor waar hy volgens hom by ‘n gastehuis in Mbombela werk.
“Ek werk seker al so ‘n maand hier,” het hy gesê, maar wou nie sê by watter gastehuis nie.
Gevra oor die beweerde skuld en slagoffers, het hy aangevoer dat hy sommige mense reeds terugbetaal het.
“Ek is besig om met die res te onderhandel,” het hy gesê. Hy het beweer dat hy reeds meer as R100 000 aan Saresa terugbetaal het en onderneem om bewysstukke aan Laevelder te voorsien.
Ten tyde van die plasing van hierdie artikel is geen bewyse ontvang nie, en nie een van die slagoffers het gesê dat hulle terugbetaling ontvang het nie. Intussen is die paroolkantoor ook op soek na Maré.
Hy het glo sy paroolvoorwaardes oortree, onder meer deur Sabie sonder skriftelike toestemming te verlaat en verskeie verpligte polisieverskynings mis te loop. Indien korrektiewe dienste bevind dat hy sy parool verbreek het, kan hy die oorblywende 29 maande van sy vonnis uitdien.
Maré het gesê hy sal eers sy prokureur raadpleeg voordat hy enige verdere vrae beantwoord.
Die verhouding tussen Daniël Maré en Sonja Jacobs (24) het in 2024 begin, enkele weke voordat hy tronk toe is.
* Daniël Maré se voormalige verloofde in strik vasgevang
“Toe ons ontmoet het, het ek nie juis iets van hom geweet nie. Ek het eers iets van sy streke tydens sy hofverskyning gehoor. Voor hy na sy sel geneem is, het hy my gesmeek om vir hom te wag totdat hy weer vry is. Toe hy ná sewe maande op parool vrygelaat is, het ons die verhouding voortgesit,” vertel Jacobs.
Volgens haar het dit goed met hulle gegaan. Maré het haar op Oujaarsdag gevra om met hom te trou. Hulle verhouding was in 2025 aanvanklik ‘n groot sukses.
Dit het só goed gegaan dat sy, ten spyte van waarskuwings van sy familie, ‘n lening van R10 000 aangegaan het om aan hom te leen. Ná vyf maande het die verlowing skipbreuk gelei.
“Ek het hom uitgevang dat hy oor verskeie dinge vir my gelieg het. Sy beloftes om my terug te betaal, is ook nie nagekom nie. Hy skuld my nog sowat R8 000 wat ek nou moet opdok,” het Jacobs aan Laevelder gesê.
Sy het sedertdien geen kontak met hom gehad nie.
“Ek hoop van harte dat wat met my gebeur het, ‘n les vir ander jong vroue sal wees, sodat hulle nie in dieselfde strik trap nie. Moenie halsoorkop in ‘n verhouding beland nie,” waarsku sy.
