Local newsNewsUpdate

Maggiesdal huurders uitgesit

Inwoners wat vroeër gekla het, het verlede week 'n uitsettingskennisgewing van die munisipaliteit ontvang.

NELSPRUIT – Huurders by Maggiesdal wat vroeër oor die optrede van die opsigter gekla het, het verlede week ‘n uitsettingskennisgewing van die munisipaliteit ontvang.

Nelspruit Post het vroeër berig dat Pieter Kruger se huishouding ongelukkig was met die opsigter, Martien Roberts, wat hul elektrisiteit afgesny het nadat hulle nie hul huur betaal het nie. Hul verweer was die swak toestand van die huis waarin hulle woon. Hulle het egter hul agterstallige huur betaal en die elektrisiteitstoevoer is weer herstel.

Vrydag het hulle egter ‘n kennisgewing ontvang dat hul moet uit. Dit is deur die munisipale bestuurder, Xolani Mzobe, onderteken. Dit volg op gerugte dat Roberts hulle met uitsetting gedreig het, na die eerste berig oor die onenigheid. Die huisnommer op die kennisgewing, gerig aan Kruger, is egter dié van die naburige huis.

Volgens die kennisgewing, is die rede vir die uitsetting dat die huis nie bewoonbaar is nie. “Die rede vir die beëindiging van die huurooreenkoms is dat die strukturele toestand of gebrekke van die huis nie meer aanvaarbaar is vir mense om in te woon nie en dit verg ‘n algehele sloping. Op hierdie stadium, het die stadsraad nie die begroting toegeken vir die oprigting van ‘n nuwe struktuur nie en dus is die enigste alternatief om die kontrak te beëindig om enige uitdagings te vermy,” lees die kennisgewing.

Volgens Kurger se skoonma, Jossie Maree, wat in die huis woon, is die buitekant van die huis egter verlede week deur Roberts geverf. Die inwoners kan ook tot 9 November in die “onbewoonbare” huis aanbly.

Daar is ook vroeër berig dat die opsigters by Maggiesdal besig is om ‘n opname te maak van die eiendomme om nuwe huurooreenkomste met huurders op te stel, aangesien Mbombela in baie gevalle doodeenvoudig met die bestaande huurooreenkomste voortgegaan het toe hulle die eiendom oorgeneem het.

Volgens Markus Minnie, wie se suster en ma op die eiendom woon, het hulle ophou huur betaal nadat hulle aangesê is dat die huurooreenkomste nie geldig is nie. Teen druktyd het die munisipaliteit nog nie op vrae oor die situasie gereageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button