Pinotage vloei vrylik vir kok-vereniging
Diemersfontein se Pinotage on Tap het Sondag ten bate van die kok-vereniging se Laeveld-tak, gaste by Kavinga gastehuis onthaal.
NELSPRUIT – Wat is nou ‘n beter manier om geld in te samel vir voornemende kokke, as met goeie kos en lekker wyn? Diemersfontein se Pinotage on Tap het Sondag ten bate van die kok-vereniging se Laeveld-tak, gaste by Kavinga gastehuis onthaal.
Die kos is voorberei deur Kavinga, Mahoi’s, Zest en Food Fundi en het kaasborde sowel as vol etes te koop aangebied. Hoewel dit oudergewoonte bietjie kopkrap en rondsnuffel vir vegetariërs gevat het, kon selfs die mees kieskeurige eters saam smul.
Die kinders het wel die sjokolade-fontein oorgeneem en die ry tjokkers het die grootmense omtrent afgeskrik. Laasgenoemde het maar op die wyn gefokus.
Die amper bodemlose houtvat koffie-sjokolade pinotage het behoorlik gevloei en almal het lekker saamgekuier met musiek. Tasha Baxter het nie soos geadverteer opgedaag nie, maar eerder Natalie Chapman. Haar en haar kitaarspeler se rustige rock was gepas vir die opening van die spesiale dag en die mense het rustig op hooibale gekuier voor middagete.
Fake Leather Blues Band het oor etenstyd opgetree. Meer mense het gekla as die handjievol wat dit geniet het. Hul optrede was goed en Jonathon Piper van Nelspruit het by die goep op die verhoog aangesluit om saam te speel. Ongelukkig het die meeste mense saamgestem dat die tydvak waarin hulle gespeel het, hul spysvertering skoon affekteer het.
Classic Rock Project was volgens alle aanduidings perfek vir die geleentheid en die wat tot die einde gebly het, is tevrede huis toe. Die wyn se smaak was rokerig en hout-agtig. Dit het omtrent die pinotage se bessie-smaak oordonder. Dit het nie glad afgegaan nie, maar met ‘n bietjie verbeelding kon ‘n mens amper gekarameliseerde piesang raakproe.
Alle fondse wat die dag ingesamel is, sal aangewend word om voornemende kokke van voorheen agtergeblewe agtergronde te help, om self agter die kospotte in te skuif vir ‘n inkomste.
