EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Turn to God se fees kom al nader

LYDENBURG – Die afgelope naweek het ‘n groep Christenne hul veters vasgemaak en saam met Frans Bloem vanaf Longtom SUPERSPAR na die Turn2God feesterrein, 20 kilometer op in die Lontompas, met ‘n houtkruis gestap. Volgens ds. Fred Wilson van die NG Kerk Lydenburg Suid, wat ook saamgestap het, was die simboliese kruisdra en pelgrimstog ter …

LYDENBURG – Die afgelope naweek het ‘n groep Christenne hul veters vasgemaak en saam met Frans Bloem vanaf Longtom SUPERSPAR na die Turn2God feesterrein, 20 kilometer op in die Lontompas, met ‘n houtkruis gestap.

Volgens ds. Fred Wilson van die NG Kerk Lydenburg Suid, wat ook saamgestap het, was die simboliese kruisdra en pelgrimstog ter voorbereiding vir die Turn2God-buitelugfees wat op 14 September plaasvind.

“Mense van regoor Mpumalanga wat ‘n passie het om God beter te ken, honger is vir Sy Woord en ‘n hart het om God te aanbid word die dag bymekaar geroep.”

Volgens Wilson is die doel van hierdie geleentheid om mense die geleentheid te gee om met God se teenwoordigheid en liefde deurdrenk te word.

“Vanuit die Bybel glo ons dat elke gemeenskap wat bereid is om heelhartig na God te draai met hul verstand en hul hande vir Sy werk diensbaar stel, by magte is om ons land te herstel, om probleme te hanteer en ‘n toekoms vir alle mense in Suid Afrika te verseker,” sê Wilson. Bloem, wat ook die dag saamgestap het, stap al vir bykans drie maande met die kruis in die dorp en omgewing.

“Die Here het vir my opdrag gegee om ‘n kruis te dra en ek was, en is steeds gehoorsaam aan Sy opdrag,” sê hy.

Bloem, wat ‘n ambagsman van beroep is, vertel dat hy sy lewe in 2005 vir die Here gegee het en sederdien nog nooit weer teruggekyk het nie.

“My lewe het verander en die Here het my geroep om Sy volk bymekaar te maak. Hy het my geroep sodat Sy volk genees kan word deur liggaam, siel en gees om Sy bruid vir Sy wederkoms gereed te maak.”

Hy vertel verder dat sy doel met die gereelde kruisstaptogte is om siele vir Jesus te wen en Lydenburg na Jesus te draai. “Elke tree wat ek gee is in Jesus se besit”.

Bloem meen dat sy doel soms is om deurpaaie vir mense te maak en soms is dit om mense se pad te kruis wat sukkel met oorwinning en soms om te bid en lewe te spreek.

Een van sy onlangse kruistogte wat hy onderneem het was toe hy opdrag van die Here gekry het om sewe maal rondom die munisipaliteit met die kruis te stap. “Ek het gebid vir die finansies en dat mense die regte posisies beklee. Dit is immers die kern van die dorp en in die gees kan ek sê ek het lewe in die munisipaliteit gespreek.”

Bloem nooi mense uit om op die uitkyk vir hom te wees met sy kruis en moedig hulle aan om met hom te kom gesels.

Die hekke vir die Turn2God fees wat op 14 September plaasvind open reeds om 09:00, alhoewel dit amptelik van 12:00 tot16:00 sal plaasvind.

Kaartjies is R30 en by www.itickets.co.za beskikbaar. Bring jou piekniekmandjie, kombers of stoel en kom aanbid die Here saam. Vir meer inligting gaan na die Turn2God facebookblad of kontak ds. Fred Wilson by 082-805-0924.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button