Kinders vertel hul stories van die bos
Al ses stories sal in Afrikaans, Engels en siSwati in een boek uitgegee word.
NELSPRUIT – Innibos Kunstefees het hierdie week die eerste fase van sy projek om ‘n kinderboek in drie tale uit te gee, afgehandel.
Die stories wat vervat sal word is deur kinders geskryf en sal ook deur hulle geïllustreer word.
Die wenstories is gekies en die skrywers is Dinsdag elk met R1 000 beloon. Hulle het ook die geleentheid gehad om Sibongile Manana, LUR van sport en kultuur te ontmoet. Die departement is die hoofborg van die fees se kreatiewe skryfprojek.
Tog is die grootste beloning dat die stories in ‘n bundel gepubliseer sal word, met die voorlopige titel van Stories Innibos. Die organiseerders het laerskoolleerlinge van regoor die Laeveld genooi om stories in hul moedertaal (Afrikaans, Engels of siSwati) te skryf. Die skole het aanvanklik die bestes gekies, waaruit die ses finale wenners aangewys is. Elke storie sal na die ander twee tale vertaal word, en saam in boekvorm uitgegee word.
Volgens Sandra Jacobs, feesbestuurder, sal al die skole in Januarie weer genader word vir hul leerlinge om die boek ook te illustreer.
“Dit is vir ons belangrik en spesiaal,” het sy van die skryfprojek gesê. Dit is deur Ans Kotze geloods met die doel om kinders van gr. 4 tot gr. 7 aan te moedig om kreatiewe skryfwerk te doen.
Die wenners is Tinyiko Nxumalo van Nelspruit Primary met The Lost Puppy, Natasha Dzadza van White River Primary met Why Birds Sing, Zach le Roux van Laerskool Bergland met Die Groen Monster, Bessie Breytenbach van Laerskool Laeveld met Martha en Dolf se Storie, Jomic du Plessis van Laerskool Barberton met Die Verlore Dogtertjie, Marné van Aarde van Laerskool Nelspruit met Die Geheim van die Doodskis en Shelby Guerin van Penryn College met The Invisible Me.
Volgens Jacobs sal kopieë van die boek aan die skole in die omgewing versprei word, hetsy vir leesprojekte of fondsinsamelings. Die boek sal tydens volgende jaar se Innibos Kunstefees bekendgestel word.
