‘n Afskeid maar tog ook ‘n voorsmakie
Die Laeveld Lekkerbekke proe wat nuut op Explorers se spyskaart gaan wees.
NELSPRUIT – Dit was 'n voorsmakie sowel as 'n afskeid toe die Laeveld Lekkerbekke onlangs by die nuwe Emnotweni Casino onthaal is.
Dit is 'n plaaslike broederskap van fynproewers en uiteters wat gereeld aansit om uitsonderlike maaltye te beproef.
Hierdie keer was dit om vir oulaas te eet van die geregte wat lank te kry was op een van die bekende en mees geliefde spyskaarte in die provinsiale hoofstad – die van die ou Explorers Restaurant.
Die gevierde sjef, Wendy Dunn is nou besig met 'n nuwe reeks geregte vir die restaurant, wat eersdaags weer in die nuwe Emnotweni Casino open.
Die casino tesame met die nuwe Emnotweni Arena word tans teen 'n koste van R165 miljoen uitgebrei en opgradeer.
Casino-baas Ig Olivier was die gasheer toe die groep, tesame met 'n paar ander gereelde gaste van Explorers, 'n voorsmakie gekry het van hoe die nuwe kompleks gaan lyk. 'n Tydelike eetkamer is in een van die byna voltooide eksklusiewe Salon Privé-vertrekke ingerig.
Die vloer- tot plafon-glas bied 'n wye uitsig oor Nelspruit se stadsliggies.
Wendy se gerookte forel op blinis met avokadomousse-voorgereg was weereens 'n wenner, maar die meeste Lekkerbekke moes saamstem dat haar bekende Calamarie Lemone nog lank gemis gaan word.
Ander voorslag-geregte wat 'n geruime tyd 'n groot gunsteling by Explorers was, is die glans lamskotolette met geroosterde groente en die garnaalkerrie met jasmynrys. Wendy beloof egter om vorentoe steeds hierdie ou gunstelinge as spesialiteitsgeregte voor te berei. Die Laeveldse Lekkerbekke kom gereeld om die tafel byeen om bekende en onbekende eetplekke op die proef te stel. Ofskoon daar die afgelope jaar of twee uitstekende aansitgeleenthede was wat in baie gevalle haas onverbeterlik was, deel hulle steeds die vaste geloof dat die beste ete ooit nog voorlê.
Nuwe lede is altyd welkom, ofskoon net 30 op 'n slag om die tafel kan sit. Kontak Sofie van Veijeren by sofie@kellaprince.co.za om jou naam op die poslys te kry.
