Wees op jou hoede vir koudbloediges hierdie somer.
Die warm Laeveld krioel van slange - party gevaarliker as ander - en inwoners moet weet wat hulle te doen staan as hulle met dié reptiele gekonfronteer word.
NELSPRUIT – Die warm Laeveld krioel van slange – party gevaarliker as ander – en inwoners moet weet wat hulle te doen staan as hulle met dié reptiele gekonfronteer word.
Reptiele hiberneer in die water waartydens hulle hartklop verminder na vyf slae per minuut. Hulle ontwaak gewoonlik wanneer die reënseisoen begin, is baie honger en gevolglik uiters aktief.
Dit is altyd ‘n goeie idee om jou huis toe te maak voordat jy vir ‘n naweek weggaan, of selfs as jy net werk toe gaan. Dit sal dit moeiliker maak vir slange om jou huis te betree. As jy jou huis binnegaan, onthou dat dit donkerder is as wat dit buite was, so staan eers ‘n ruk en raak gewoond aan die lig in jou huis. Dit berei jou oë voor om aan te pas by die omstandighede.
Nico Grobler van Hi-tech Sekuriteit Nelspruit, is opgelei is in die hantering van slange. Hy sê dat jy slange kan weghou deur malva-plante rondom jou huis te plant en die skoonmaakmiddel Jeyes Fluid te gebruik. Die skerp reuk daarvan hou die slange uit jou erf uit.
Indien jy op ‘n slang in jou huis afkom, moet hom eerder nie konfronteer nie. Enige wilde dier wat vasgekeer of berdreig voel, se instink is om homself te verdedig. Geen slang sal uit sy eie uit aanval nie, behalwe as jy binne 50 meter kom van waar hulle paar. Hou ‘n noodhulpkissie byderhand wat jy kan gebruik, so jy wel deur ‘n slang gepik word.
Eerstens, hou jouself warm. Hoewel dit jou eerste instink is om te hardloop vir hulp, is dit een van die verkeerdste dinge om te doen. Jou hartklop word hierdeur verhoog, en veroorsaak dat gif vinniger deur die bloedstroom beweeg. Dit is baie belangrik dat jy ‘n beskrywing van die slang kan gee as jy by ‘n hospitaal aankom. Dit sal spesialiste ‘n aanduiding gee watter teengif om te gebruik. Om gif uit te suig, jouself te sny of die wond af te bind, kan meer skade doen as goed.
Ongeveer 90% van slange in die Laeveld is nie giftig nie en van hierdie spesies wat naby huise gevind sal word sluit in: Bruin huisslang, rooilippie en die gespikkelde bosslang. Spesies wat wel baie gevaarlik is sluit in: Mosambiekse spoegkobra, swart-en groen mamba, pofadder en die voëlslang (twig snake). Daar moet uiterse voorsorg getref word om uit die voëlslang se pad te bly aangesien daar geen teengif beskikbaar is nie.
Probeer sover as moontlik vermy om ‘n slang dood te maak – dit kan dalk ‘n bedreigde spesie of heeltemal onskadelik wees. Daar is inwoners wat opgelei is in die verwydering van slange. Sodra die slange gevang word, word hulle weer vrygelaat in hulle natuurlike omgewing.
Indien jy jouself in die situasie bevind waar ‘n slang in jou huis is, skakel Nico Grobler by 013-752-4470.
