EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Toentertyd se plesier by I’langa se opelug inry-teater

Geniet 'n uiters spesiale Valentyns-geleentheid saam met I'langa.

NELSPRUIT – Onthou jy nog ‘n veldfliek? Daardie mooi someraande waar die lug oop en skoon was, en die aandster in die laaste gloed van die sonsondergang skuins agter die skerm verskyn het…

Die rolprent, Stuur groete aan Mannetjies Roux, wys vanaand (Vrydag) by I’langa Mall op ‘n grootskerm, net soos die outydse inry. Dit is ‘n aand om die kombers voor die kar oop te sprei en die piekniekmandjie uit te pak. Of, soos ‘n jong paartjie, die bakkie stertkant na die skerm te parkeer en jou op ‘n matras op die bak tuis te maak. Jy kan ook jou viertrekbakkie dwars parkeer en rustig op jou kampstoel uitspan met jou koelboks binne reikafstand. “Ons beoog om dit ‘n gereelde instelling te maak en die mense is mal oor die idee. Al die fondse wat ons gaan insamel, word aan KANSA geskenk,” sê die bemarkingsbestuurder van I’langa, Hanli Lombaard.

Lombard vertel dat dié briljante idee al ‘n hele paar maande terug by haar begin broei het. “Na die Loffees het ek een middag met iemand oor die idee gesels en die prentjie het begin vorm en kleur kry. Ons het ‘n klip in die bos op ons Facebook-blad gegooi en daar was groot belangstelling. Ons het daar en dan besluit om dit te doen en ons is vreeslik opgewonde daaroor.”

Hoe werk dit?

Kaartjies kan vooraf by CANSA Care Centre gekoop word. Dit vind by die boonste parkeerarea by Mugg & Bean plaas. Die klank word deur ‘n radiokanaal uitgesaai wat by die ingang aan fliekgangers gekommunikeer sal word. Daar gaan óók ‘n plekkie vir dié wees wat ‘n piekniekmandjie wil saambring.

‘n Kiosk sal beskikbaar wees met allerhande lekkergoed, spookasem, springmielies, slush puppies, koeldrank en nog vele meer. Dit begin om 19:00. Toegang beloop R60 per voertuig (vier persone) en R15 vir elke ekstra persoon

Navrae: Monica Ras by013-741-5442.

Moet nie vergeet dat vandag Valentynsdag is nie – dit is die ideale geleentheid om jou geliefde te bederf.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button