Heads inwoners sonder water vir dae
Inwoners van The Heads is rasend na hulle vir dae sonder water moes klaarkom. Na wat verneem word het verskeie panele by die waterwerke uitgebrand.
LYDENBURG – Inwoners van The Heads is rasend na hulle vir dae sonder water moes klaarkom. Na wat verneem word het verskeie panele by die waterwerke uitgebrand.
Om die panele te herstel gaan die stadsraad sowat R56 000 uit die sak jaag.. Dit is geen geheim dat Thaba Chweu Munisipaliteit geldelik in die knyp is nie en dus is daar nie sekerheid wanneer dié panele vervang of herstel gaan word nie.
Volgens inligting is die bestelvorm wel al voltooi maar wanneer dit vir die verskaffer gegee sal word is ‘n ope vraag.
Wat nog meer kommerwekkend is, is dat gerugte die ronde doen dat die huis van die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Godfrey Nkosi. glo met splinternuwe gordyne spog.
Volgens DA raadslid Sonja Boshoff is die gelol dat inwoners in die hoërliggende dele nie water gaan hê nie omdat die tenks in die dorp nie vol genoeg raak nie. “Ons is in vir moeilike tye. Al wat ek hoor is ‘dat ons geduldig moet wees’. Hoe lank is debatteerbaar. Dit kan eenvoudig nie meer so aangaan nie. Ek probeer my uiterste om die saak uitgesorteer te kry. Maar as hierdie munisipaliteit nie geld het nie gaan ons nie geholpe raak nie.”
Sy sê dat die pomp letterlik met die hand aan en afgeskakel moet word. “Ek is egter ingelig dat daar nie van amptenare verwag kan word dit aaneen te behartig nie. Wat nou gebeur is dat die water wat gepomp word eers na Mashishing loop (die mees laagliggende gebied). Die reservoirs kry nie voldoende kans om vol te loop nie en dus is daar nie water beskikbaar vir die Heads (die mees hoogliggende gebied) nie.”
Boshoff meen dat dit duidelik is dat TCM nie die nodige dienste kan verskaf nie. “Daar moet ‘n totale vernuwing van die infrastuktuur plaasvind en dit is duidelik dat die munisipaliteit dit nie kan bekostig nie.”
Terwyl inwoners van dié uitbreiding moet sien kom klaar sonder basiese watertoevoer is daar ‘n waterlek in Jansenstraat in die onderdorp. Water syfer deur waar een van die pype vermoedelik gebars het en meng met rou riool wat skaars vyf meter verder uit ‘n mangat borrel en in die dorpsrivier vloei.
Teen druktyd het die munisipaliteit nie die koerant se navrae gereaggeer nie. Dit is ook nie duidelik wanneer watertoevoer herstel gaan word nie.
