Kleuters woeker al te lekker tydens pretdag
Die jaarlikse interkleuter het vanjaar weer vir groot opwinding op die laerskool se velde gesorg. Sowat sewe kleuterskole het aan die pretdag deelgeneem.
LYDENBURG – Die jaarlikse interkleuter het vanjaar weer vir groot opwinding op die laerskool se velde gesorg. Sowat sewe kleuterskole het aan die pretdag deelgeneem.
Elkeen het hulle eie kleur hemp aangehad en die maats het dit terdeë geniet om saam met die ander kleuters deel te neem.
Daar is aan verskeie aktiwiteite soos resies-hardloop, balrol, verspring en klein hekkies deelgeneem. Krappies en Krefies Kleuterskool het vanjaar die byeenkoms aangebied.
Daar was natuurlik ook nie ‘n tekort aan verversings nie, want klein magies word maar honger van al die atletiek.
Mammas, pappas, oupas en oumas het kom loer hoe die kleingoed dit op die laerskool se atletiekbaan uitspook. Al het reën die verrigtinge effens in die wiele gery, het die program steeds voortgegaan. Almal was dit eens dat dit ‘n onvergeetlike dag was.
