Swaar reën vereger die toestand van slaggate
Die R40 in Witrivier se rigting wat weens die afwesigheid van padmerke reeds sake vir motoriste moeilik maak, het nou boonop 'n reuseslaggat bygekry, wat reeds talle voertuie beskadig het.

Werkers is vanaf Maandag besig om dié slaggat te herstel. Volgens mnr. Ebony Zitha, een van die werkers, het dit weens die pad se swak dreinering gevorm. ‘n Nuwe dreineringspyp is egter aangelê om die probleem aan te spreek, waarna dit geseël sal word. Die herstel word egter deur die nat toestande wat al byna ‘n week lank heers, verhinder, maar die pad behoort aan die einde van die week ten volle herstel te wees.
Op dieselfde roete in Barberton se rigting het padwerkers ook spoedig gereageer om van die slaggate naby Church Unlimited te herstel. Me. Zelda Venter, ‘n padgebruiker, het vertel dat sy al verskeie voertuie gesien het wat die slaggate, wat aan beide kante van die pad is, getref en hulle bande in die proses beskadig het.
Teen druktyd is die twee gate aan die kant van die pad wat in Nelspruit se rigting lei wel herstel, terwyl daar nog nie aandag aan die ander drie gegee is nie.
