FeaturesInnibos NuusLifestyleLocal newsNews

Kry ‘n kykie na dié jaar se fees der feeste

Bobby van Jaarsveld, Blackbyrd en Pieter Koen gaan onder meer by hierdie konsert, wat vanjaar vir die derde keer aangebied word, optree.

NELSPRUIT – Op 23 Mei word daar groot makietie gehou wanneer Innibos sy 2014-program met ‘n gratis konsert by Hoërskool Bergvlam bekendstel.

Bobby van Jaarsveld, Blackbyrd en Pieter Koen gaan onder meer by hierdie konsert, wat vanjaar vir die derde keer aangebied word, optree.

Kosstalletjiess sal smullekker eetgoed bedien en konsertgangers sal vir hierdie geleentheid op die feesterrein kan parkeer.

Buiten heerlike musiek deur die gaskunstenaars, sal die gehoor ‘n voorsmakie kry van hoogtepunte op die 2014 Innibos-feesprogram. Inligting oor die top-dramaproduksies, komedies, kinderteater en musiek wat by vanjaar se fees verwag kan word, sal ook bekendgemaak word.

“Mense wat die loodskonsert bywoon, sal ‘n uitstekende idee kry van alles wat by die fees gaan gebeur en sal dus ook goed toegerus wees om vanaf 26 Mei maklik hul kaartjiebesprekings te kan doen,” sê Sandra Jacobs, die fees se media- en bemarkingsbestuurder.

Die volledige Innibos-programboekie wat in Laevelder gepubliseer gaan word, sal vir die eerste keer by hierdie geleentheid aan die publiek beskikbaar gestel word.

Voorafbesprekings vir Tjirp-lede en feesgangers met spesiale besprekingskodes is vanaf 24 Mei by Computicket en op die webwerf beskikbaar. Mense wat graag by Tjirp wil aansluit, kan gerus op die Innibos-webwerf gaan vir hierdie gratis nuusbrief inteken. Tjirp-lede ontvang vooraf altyd die jongste nuus oor spesiale aanbiedings en pakkette, asook interessante brokkies feesnuus.

Die grootste voordeel van Tjirp-lidmaatskap is die voorreg om reeds op

24 Mei kaartjies vir alle Innibos-vertonings, met die uitsondering van Boeke-crawl, te kan bespreek.

Kaartjies vir dié gesogte produksie word jaarliks binne 15 minute nadat besprekings vir die publiek oopgestel is, reeds uitverkoop.

Geen vroeë besprekings word dus vir Boeke-crawl toegelaat nie omdat dit waarskynlik sal beteken dat die produksie uitverkoop sal wees voordat kaartjieverkope amptelik open.

Die Boeke-crawl is ‘n unieke woord- en musiekproduksie wat al byna kultusstatus by Innibos bereik het. Dit word vanjaar weer in Kaapsehoop aangebied.

Die fees vind vanjaar vanaf 2 tot 5 Julie by Hoërskool Bergvlam in plaas. Kaartjies sal vanaf 26 Mei by Computicket en op die webwerf beskikbaar wees.

Vir meer inligting oor Innibos, besoek gerus www.innibos.co.za of bel die feeskantoor by 013-741-5294.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button