Skop bokser verwerf Springbok kleure
Die jong skopboksers van Barberton wat vir die Mpumalanga-span gekies is, het onlangs aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Pretoria deelgeneem.
Die jong skopboksers van Barberton wat vir die Mpumalanga-span gekies is, het onlangs aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Pretoria deelgeneem.
Alhoewel hulle besonder goed gevaar het, het nie almal medaljes verower nie. Volgens hulle afrigter, Brandt Ehlers, is dit net ‘n tydelike toedrag van sake en oefen hulle tans hard om te verbeter.
Een silwermedalje is deur Chris Steenekamp verower, en Francois Labuschagne en JG Pansegrouw het elk ‘n bronsmedalje ontvang.
Jose Ehlers, wat van die begin af briljant gevaar het, moes onttrek nadat hy deur ‘n opponent ‘n harde skop teen die kop toegedien is. Hierdie besluit is deur die mediese span asook Brandt geneem.
Ten spyte hiervan was die beoordelaars hoogs beindruk met dit wat hulle reeds gesien het, en is hy gekies vir die Suid-Afrikaanse span. Dit beteken dat Jose kwalifiseer vir Springbok-kleure.
Hy sal sy vol kleure ontvang wanneer hy internasionaal begin deelneem. Daar is reeds planne gemaak en Jose sal later die jaar teen skopboksers van onder andere Kanada, Madagaskar en ‘n groep van Rusland wat Suid-Afrika gaan toer, te staan kom.
As Springbok, het die eer hom ook te beurt geval om gedurende September aan die Junior Wêreld-kampioenskappe in Italië te kan deelneem. Die kostes hieraan verbonde beloop sowat R25 000. “Sonder borgskap, sal dit bykans onmoontlik wees vir Jose om deel te neem,” het Brandt gesê.
Hulle vra besighede dit oorweeg om hierdie jong Barbertonner te borg aangesien so iets nie elke dag gebeur nie. Navrae: Brandt Ehlers op 083-415-5032.
