Oorwonne Olifante toon goeie veggees
Malelane-rugbyklub het die afgelope Saterdag na Nelspruit gereis met die hoop om te wen, maar dit was hulle nie beskore nie. Die Nelspruit-spelers was reg vir die Olifante en het hulle onder druk probeer plaas.
Malelane-rugbyklub het die afgelope Saterdag na Nelspruit gereis met die hoop om te wen, maar dit was hulle nie beskore nie. Die Nelspruit-spelers was reg vir die Olifante en het hulle onder druk probeer plaas. Malelane het hulle egter nie laat skrikmaak nie. Die telling het soos ‘n wipplank heen en weer beweeg tot in die laaste sekondes van die wedstryd.
In die tweede helfte van die wedstryd, na die telling lank op 14 elk gestaan het, het Nelspruit weer punte aangeteken. Malelane het daarop geantwoord en so aangehou totdat hulle met 26-24 voorgeloop het. In die doodsnikke van die stryd het Nelspruit alles uitgehaal en die finale vyf punte aangeteken wat die eindtelling op 29-26 te staan gebring het.
Malelane se tweede span het dieselfde moed aan die dag gelê, maar moes uiteindelik die knie buig met ‘n verloortelling van 34-12.
Die spelers van die wedstryd vir die eerste span was Frikkie Odendaal en Moses Ngwenya. Vir die tweedes is Flip van der Merwe en Gordon Mashele, wat altwee ‘n uitstekende wedstryde gespeel het, aangewys. Afrigter Spikkels Coetzee het aan Corridor Gazette gesê, “Die manne het hard gespeel en ons bly trots op hulle. Malelane-rugbyklub wil ook graag dankie sê aan Nelspruit-klub vir die goeie rugby en die gesindheid waarmee ons ontvang is. Ons hoop om julle weer in die finaal te sien.”
