‘n Lekkerleesroman so uit die Kaap
Simon Branders stel sy boek bekend.
Politiek en godsdiens is kwessies wat liefs vermy moet word, maar Simon Bruinders behandel dit met ‘n subtiliteit wat verstom in Die Sideboard.
Die debuutroman was eers ‘n solo-verhoogstuk wat deur die skrywer self opgevoer is en is grootliks op sy familiegeskiedenis. Die verhaal draai om die temas van grond, godsdiens en kultuur en neem die leser op ‘n reis deur Suid-Afrika se geskiedenis uit die oogpunt van ‘n bruin man van George.
Die Sideboard vertel die verhaal van Abraham, sy stryd vir grond en sy liefde vir sy familie, gemeenskap en houtwerk. Lesers leer ken ook vir Kobus, ‘n jong Afrikaner wat anders dink as sy tradisievaste familie, en die vriendskap wat tussen die twee mans groei. Simon verduidelik dat die boek in 1939 afspeel omdat dit ‘n baie dinamiese jaar in die wêreldgeskiedenis was. Die Afrikanerstate is gekonsolideer, die tweede wêreldoorlog het losgebars en dit was ook ‘n keerpunt wat gelei het tot die NP se oorwinning in die 1948 verkiesing.
Die ongeletterde Abraham droom van ‘n familie met Stella, ‘n jong onderwyseres, en om eendag kinders op sy eie grond groot te maak. Hierdie stryd om sy eie lappie aarde begin ‘n reis wat hom deur Sentraal-Afrika tot by Egipte en weer terug na George sal neem. Die sideboard wat Abraham vir Stella uit swart- en geelhout wil maak word dan ook ‘n simbool van geloof, ‘n huisaltaar. Iets wat voortdurende bedreig word en byna deur vuur vernietig word.
Die verhaal is een van daardie ongewones wat jou beetkry van die eerste bladsy af, selfs al lees jy nie gewoonlik sulke stories nie. Die egtheid van die karakters, die taalgebruik so eie aan die onderskeie kulture en die sterk dialoog laat jou voel asof jy langs die karakters staan.
Soos voorheen genoem, is die boek deurspek met geskiedkundige gebeure, maar omdat die leser uit Abraham se oogpunt dit beleef, gee dit nie aanstoot nie. “Abraham gee gebeure soos die implimentering van die Grondgebiedewet ‘n gesig. Ek wou die storie vertel sonder om lesers te affronteer, hulle meer objektief daarna te kyk al was ek diep betrokke,” sê Simon. Volgens hom is die verhaal ook 60% sy familiegeskiedenis, wat dit redelik moeilik gemaak het om te skryf.
Die boek het sover ‘ n baie positiewe ontvangs geniet met heelwat lesers wat so lekker en maklik gelees het dat hulle dit nie kon neersit nie.
As jy nou lekker nuuskierig is, gaan koop die boek by die ATKV Boekwinkel. Jy kan vanmiddag om 15:00 of Saterdag om 11:00 die skrywer ontmoet en jou eksemplaar laat teken.
