Paul Boekkooi resenseer ‘Vat Hom Flaffie’
Feitlik niks kan lekkerder wees as 'n maagdelike ervaring van Pieter Fourie se meesterlike seksklug Vat Hom Flaffie nie.

Vat Hom Flaffie, met Chris van Niekerk, Susan Beyers, Neels Coetzee, Christel van den Bergh, Chanelle de Jager, Gideon Lombard, Emile Minnie en Alex Marais
Teks: Pieter Fourie
Regie en beligting: Albert Maritz
Feitlik niks kan lekkerder wees as ‘n maagdelike ervaring van Pieter Fourie se meesterlike seksklug Vat Hom Flaffie nie. Die rede daarvoor is voor die hand liggend: Dit is sover my kennis strek – en dít opsigself is hoogstens ‘n wye sprong in die donker – die smaakvolste klug in Afrikaans rondom liggaamlike dubbelsinnighede en innuendo’s wat daar bestaan, sónder dat dit ooit vulgêr raak.
Ter wille van akademiese korrektheid word na dié produksie deur die regisseur Albert Maritz verwys as synde “‘n situasie-komedie in die styl van die Fransman Georges Feydeau”, maar as produksie is dit suiwer klug, soos wat Fourie dit bedoel het. Terwyl dosyne vertaalde klugte in Afrikaans die ronde doen, is dit ‘n oorspronklike een soos dié wat die lendene soos ‘n jong hert in vrugbare streke s’n laat huppel.
Die aanvanklike beplanning vir die owerspelige makieties wat sal volg, vind in saamkomplekke met sulke diskrete naampies soos “The Golden Cock”, “The Henpecked Whistle” en “The Poison Plate” plaas. Uiters aktief en speels betrokke by dit alles is die legendariese rugbyspeler, nou sakeman, Yster (Chris van Niekerk), sy vrou, Hendrina (Susanne Beyers), asook sy sekretaresse en skelmpie, Cindy (Christel van den Bergh) – ‘n uiters ingeligte, vindingryke en tot- aksie- oorgaande donspoppie soos min.
Voorts is daar Yster se veel jonger vennoot, Tollie (Gideon Lombard), terwyl ‘n bejaarde paartjie, Hups (Neels Coetzee) en Ella/Hendrina (Chanelle de Jager), met die helm gebore, ook toevallig betrokke is by die komende avontuur by ‘n Thailandse gesondheidspa waar spa-gangers letterlik enkele stukkies groen blaarslaai gevoer word, maar darem ook figuurlik verwys na ander soorte groen blare wat gepluk kan word. Om die rolverdeling af te rond is daar die klerk, Jannie (Emile Minnie) en ‘n kelner (Alex Marais).
Met pruike, korsette, merendeels kitsch klere, sonbrille en wat nie alles nie vir vermomming, word almal in die tweede helfte van Vat Hom Flaffie losgelaat om loslywig te begin pronk om moontlike herkenning te vermy – iets wat vanselfsprekend in ‘n klug nie kán of mág gebeur nie. Dit is egter die gevatte, woordgedrewe dialoog en die uiters fyn berekende bewegings, liggaamstaal en mimiek waarin Maritz sy spelers spontaan onderrig het, wat elke teaterganger tot feitlik onophoudelike lagsalvo’s sal aanspoor.
Te midde van hoogs professionele werk deur Gaerin Hauptfleish se werk op tegniese, stel- en klankbaanvlak, kom Minnie se liedjies as ietwat kômmin voor, maar miskien is dit presies só bedoel.
Benewens die kelner wat nie veel meer met ‘n gepas vlak-geskrewe rol kan doen nie, is daar by al die ander spelers verrassende elemente wat jou daarvan oortuig watter gespesialiseerde klug- en komedie-akteurs ons besit, en watter uiterstes in aanvoeling vir ensemblespel hulle moet bemeester om súlke resultate te bereik.
Vertonings: Donderdag 18:00, Vrydag 09:00, Saterdag 14:00. Venue: Pickfords Laeveld Laerskool. Tydsduur: 120 minute (pouse ingesluit). Prys: R112.
