Verbeeldingryke visvangstories hou gehoor aan ‘n lyn
Visvangstories is al so deel van die Afrikaanse kultuur soos koeksisters en melktert op jou ouma se stoep. Akteur Ben Kruger slaag daarin om met sy eenmanvertoning, Babelaas en Babers, hierdie tipe stories vars te hou met sy skreeusnaakse sêgoed en kreatiewe verbeelding.
Visvangstories is al so deel van die Afrikaanse kultuur soos koeksisters en melktert op jou ouma se stoep. Akteur Ben Kruger slaag daarin om met sy eenmanvertoning, Babelaas en Babers, hierdie tipe stories vars te hou met sy skreeusnaakse sêgoed en kreatiewe verbeelding.
Kruger se vertoning by die Boma-kuierteater is Afrikaanse humor op sy beste. Hy vertel die pittige verhaal van hoe hy en sy vriende, Fanie en Japie, in ‘n taai stryd met ‘n baber uiteindelik die oorhand wen na ‘n hele paar komieklike en altans verbeeldingryke probeerslae.
Kruger en sy makkers bevind hulself in Agenys, ‘n klein Noord-Kaapse dorpie en vertel van die ergste babelaas wat hy al langs die viswaters beleef het. Hy begin sy verhaal op die vloer, nadat ‘n paar biere hom op sy rug gedwing het.
“Ek drink glad nie!” seg Kruger terwyl hy leepoog na die gehoor staar. Na ‘n paar minute is Kruger gereed om sy beste visvangstorie te vertel – en wat ‘n storie is dit nie!
Hy vertel van die tyd toe hy met sy Ford Galaxy weens komieklike omstandighede in ‘n slaggat ingery het. Gelukkig vir Kruger werk alles toe na ‘n lang gesukkel uit met ‘n donkiekar, ‘n plaaslike inwoner en statiese elektrisiteit – maak maar jou eie verbeelding op.
Sy ontmoeting met een van die grootste babers nog het wel begin toe sy Land Rover-dieselmotor gaan staan het. Kruger en sy makkers stel toe ‘n plan B op en probeer die vis met ‘n staalkabel uit die water trek. Wonderbaarlik kry hulle dit reg met die vis wat reg bo-op die Land Rover land.
“Die vis maak toe ‘n sierlike salto wat lyk soos ‘n sonsverduistering en land op die “short-wheel Land Rover!” het Kruger met groot oë aan die gehoor geskerts.
Hy vertel ook hoe hy in die Land Rover vasgekeer was en hoe mense proviand – bier en Tannie Millie se russiefrikadelle op ‘n baie onkonvensionele manier moes voer.
Hoe hiedie verhaal uiteindelik afspeel, moet feesgangers maar self hoor om te glo – Kruger verseker sy gehoor dat sy verhaal die reine waarheid is.
“Dit is vir my altyd lekker as mense jou lewensgeskiedenis waardeer,” het Kruger gesê.
Babelaas en Babers kan vandag weer by die Boma-kuiertuin gesien word met die familievriendelike vertoning – ‘n moet vir almal. Die vertoning begin om 15:00. Maak seker jy kry vir jou iets om jou keel nat te maak, sit gemaklik en geniet ‘n visvangstorie uit die boonste rake.
