FeaturesInnibos NuusLifestyleLocal newsNews

Video: Wilde tromslanery verdryf die stres

Vir diegene wat egter nog gesit het met 'n bietjie opgekropte energie, het In Unity We Drum twee stres-ontladingsessies by die Boma-kuierteater gefasiliteer.

Talle feesgangers beskou Innibos as ‘n middel-van-die-jaar-blaaskans – ‘n geleentheid om weg te kom van die groot stad en ontslae te raak van oortollige stres.

Dit is ‘n bewese feit dat besoekers aan die Laeveld, veral Gautengers, stelselmatig ontspan en ook stadiger begin bestuur sodra hulle deur die tonnel by Watervalboven gery het.

Vir diegene wat egter nog gesit het met ‘n bietjie opgekropte energie, het In Unity We Drum twee stres-ontladingsessies by die Boma-kuierteater gefasiliteer.

In Unity We Drum, onder leiding van Justin Behrendt en Raquel Loots, bied gereeld soortgelyke sessies in die Laeveld aan, wat as tromsirkels beskryf kan word.

Gedurende hierdie sessies kom verskeie deelnemers in ‘n sirkel byeen om na hartelus die tromme en ander slaginstrumente te bespeel. Die hele gehoor raak by so ‘n tromsirkel betrokke – dit is vir oud en jonk, en ‘n goeie aanvoeling vir ritme is nie ‘n voorvereiste nie. Die doel is om die groep se ritme te behou, frustrasies uit te timmer, effe kop te verloor, en die belangrikste van alles – om groot pret te hê.

Die twee sirkels wat by Innibos aangebied is, het beslis aan al die bogenoemde vereistes voldoen.

Bastromme, Brasiliaanse tromme, skrapers, klokkies, en ratels is deur Loots uitgedeel, terwyl sy stadigaan met die hulp van Behrendt en die gehoor ritme begin opbou het.

Dit was aangrypend om te sien hoe deelnemers aanvanklik die tromme effe selfbewus benader het, en toe skrikkerig Loots se instruksies gevolg het.

Weldra het daar ‘n paar lekker ritmes ontstaan waarby almal, veral die gespanne Gautengers, lustig ingeval het. Talle was verbaas deur hul vermoë om die ritme te kon behou.

Hierdie wilde ritmes het die Boma vir ‘n volle uur laat vibreer, en die tromslaners het die sessie verlaat met ‘n ligte gemoed en nuwe energie vir die fees.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button