‘n Man wat vir die dorp omgee
Sy hoop vir die dorp en sy mense is dat die gemeenskap en geloofsgemeenskap mekaar se belange op die hart sal dra. “Sodat ons as inwoners ons sosiale en gemeenskapsverantwoordelikheid sal opneem en uitleef en die besonderse mense in ons gemeenskap, veral die inwoners van Wenakker en die Rusoord Outehuis, sal waardeer en aanhou om hierdie instansies te ondersteun.”

LYDENBURG – Steelburger/Lydenburg News het op ons Facebook-blad gevra dat die gemeenskap individue moet nomineer wat ‘n daadwerklike verskil in die dorp maak.
Die eerste en byna oombliklike nominasie was dié van Leon de Jager. Leon is aktief betrokke by die sakekamer en AfriForum. Die koerant het by hom gaan hoor waarom hy soveel vir die dorp omgee. “Ek is amper 64 jaar gelede in Pretoria gebore en het hoofsaaklik in die omgewings van Barberton, Witrivier en Hoedspruit grootgeword. Ek het baie goeie herinneringe aan my kinderjare. Ek was op Belfast op Hoërskool waar ek in 1968 gematrikuleer het.”
Leon is boonop ‘n man met ‘n kop vir syfers. “Ek is ‘n rekenmeester van beroep en werk sedert 2004 by Fraser Alexander. Ek woon van 1985 op Lydenburg en het hierheen gekom om naby my oudste seun, Pierre te wees. Hy is ‘n Downsindroomlyer en woon tans in by Wenakker.”
Leon sê dat die dorp se welstand hom na aan die hart lê omdat hy trots wil wees op die plek waar hy woon. “Voor 1994 was Lydenburg ‘n baie netjiese dorp waarop die inwoners trots kon wees, die munisipaliteit het toe sy mandaat om diens te lewer aan die gemeenskap ten volle uitgevoer.”
Hy meen dat hy graag ‘n paar verskille in die dorp wil sien. “Ek sal graag wil sien dat Thaba Chweu Munisipaliteit verantwoordelikheid en eienaarskap sal neem om sy mandaat van dienslewering uit te voer en dat daar behoorlike beplanning en uitvoering sal wees wat betref die instandhouding en uitbreiding van ons infrastruktuur, die paaie en strate, die krag- en waterverspreiding. Daar moet ook goeie samewerking wees tussen die sakekamer en die munisipaliteit sodat ons dorp se potensiaal ten volle ontwikkel kan word.”
Nog ‘n wens van hom is dat die dorp en omgewing se toerismepotensiaal ontwikkel sal word, sodat dit kan bydra tot groei in werksgeleenthede asook groei in die plaaslike ekonomie. “Ek wil hê dat ons dorp en omgewing ‘n veilige plek sal wees met die minimum misdaad, ‘n plek waar mense se lewens en eiendom gerespekteer word.”
Op die vraag of daar nog hoop vir Lydenburg is, antwoord hy ‘n besliste, ja. ”Ek het onlangs in die koerant geskryf dat Lydenburg ‘n baie spesiale plek is met besonderse mense, mense wat ingryp en betrokke raak as ons dienste bedreig word. Solank ons daardie gesindheid behou, sal daar altyd hoop wees. Ons is in beheer van ons dorp se toekoms.”
In sy vrye tyd lees hy verskeie boeke. “Ek lees graag, en wyd, veral geestelike boeke, goeie spioenasie- en rilverhale en ek luister graag musiek, veral klassieke en rockmusiek. Ek kuier ook graag met familie en vriende, reis graag en sal dit baie meer wil doen, en ek verlustig my in God se skepping.”
Sy hoop vir die dorp en sy mense is dat die gemeenskap en geloofsgemeenskap mekaar se belange op die hart sal dra. “Sodat ons as inwoners ons sosiale en gemeenskapsverantwoordelikheid sal opneem en uitleef en die besonderse mense in ons gemeenskap, veral die inwoners van Wenakker en die Rusoord Outehuis, sal waardeer en aanhou om hierdie instansies te ondersteun.”
Leon dra graag ‘n spesiale boodskap oor aan die gemeenskap: “Ek hoop dat ons nie sal moeg word om op te staan vir ons regte as burgers van ons land en dorp nie en dat ons dorp ‘n veilige plek sal wees vir al die inwoners, veral die kinders. Moenie mense wat nie jou vriende is nie, jou vyande maak nie. Bewaar die vrede en moet nooit eerste slaan nie. As jy slaan, sorg dat jy die laaste hou slaan, en praat net soveel as wat jy veg. Kies jou vriende reg en moenie onkant speel nie.”
