Local newsLocal sportNewsSport

Impalas gaan finaal toe

Saterdag se semifinale was volgens die spankaptein van die Impalas, Cornè Dippenaar, een van dié mees spannende nog.

Saterdag se semifinale was volgens die spankaptein van die Impalas, Cornè Dippenaar, een van dié mees spannende nog. Die dorp se toeskouers het almal om 16:00 in Komatipoort om die rugbyveld saamgepak om hul span te ondersteun.

Dit was die meeste toeskouers nóg vanjaar wat ‘n tuiswedstryd bygewoon het en die spelers is in ekstase daaroor. Daar is ‘n program voor die wedstryd gereël om te sorg vir ekstra pret en ‘n groep kinders het die mense met hul moderne danspassies vermaak.

Die Impalas het vroeër vanjaar met 36-0 teen Nelspruit verloor. Daar was groot druk op die tuisspan, aangesien die opponente ‘n sielkundige voorsprong gehad het.

Die bordjies is egter verhang toe die eindfluitjie uiteindelik geblaas het in hul guns met 12-7 en die toeskouers weer kon asemhaal.

Die Impalas het vroeg in die wedstryd, ná pragtige dryfspel deur die voorspelers, ‘n strafdrie aangeteken wat deur Tiaan Nel met nog twee punte beklink is.

Die wedstryd was later in die tweede helfte ontsier, deur spelers wat mekaar “gegroet” het, soos die bekende rugbykommentator en legende in die uitsaaiwêreld, Gerhard Viviers, sou sê. Twee spelers van Komati en een van Nelspruit is gelyktydig met ‘n geelkaart van die veld afgestuur.

Die spanningsvlakke van almal om die veld was tydens dié 10 minute die hoogte in. Daar het ‘n sterk wind gewaai en met dié teen hulle en die hoofskopper in die koelkas, kon Komati nie daarin slaag om die pragdrie deur Driekus Kruger in dié tyd te verdoel nie.

Die spelers van die wedstryd was voorspeler Pieter Engels en agterspeler Driekus Burger.

Die afrigters se borskaste het weereens geswel van trots oor hul span wat almal hul harte uitgespeel het. “Ons wil geen uitsonderings maak nie, elke liewe een, van nommer een tot 22 het hul kant gebring vandag!

Baie dankie aan ons ondersteuners, julle het ons deurgedra tot die eindfluitjie geblaas het.”

Volgens Dippenaar het hul vanjaar kwaai gely onder swak beslissings van skeidsregters. “Dit was lekker om ‘n wedstryd te speel waar die skeidsregter regverdig was!

Michiel Botes het Saterdag net weereens bewys hoekom hy hoog aangeskryf word as een van, indien nie dié top skeidsregters in die Laeveld nie! Hierdie week is dit ‘n klipharde week vir die finaal eerskomende Saterdag teen Belfast.

Belfast lê soos ‘n redelike berg voor die span, aangesien dié opponente nog nie ‘n wedstryd verloor het vanjaar nie. Hulle is bo aan die punteleer, met die Impalas in die tweede plek.

“Ons manne gaan alles in die stryd gooi vir die gróót game! Ons weet die dorp en gemeenskap is agter ons en ons gaan alles gee om hulle trots te maak, maak nie saak watter kant toe die wedstryd gaan nie!” volgens Dippenaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button