Video: Tweede Wêreldoorlog-oorlewende, Katja van die Laeveld, op TV!
Katja Kowalec vertel haar storie op Kwêla. Kyk dit hier.
MBOMBELA – Katja Kowalec, een van die Laeveld se eie oorlewendes uit die Tweede Wêreldoorlog, het verlede week haar storie op TV gedeel. Sy was een van ‘n groep formidabele vroue wat in die gees van Vrouedag op kykNET se Kwêla verskyn het. Dit was ook ‘n spesiale uitsending waarin die aanbieder, Coenie de Villiers die nuwe ateljee bekend gestel het.

Laevelder het twee jaar gelede (12 Augustus 2012) oor Katja, wat van Poolse en Duitse afkoms is, geskryf. Sy het ook verlede jaar in Get it Lowveld verskyn.
Van plaaswerker tot mode-ontwerper, reisiger, ouma, sendeling en nou skrywer, is haar outobiografie intussen gedruk, en stroom die bestellings in nadat sy verlede week op die kassie was.

Maar hoe het dit gekom dat iemand van Mbombela op Kwêla beland? Haar vriendin en bemarker, Sharon Cronjé vertel: “Na ‘n spesifieke uitsending in Mei oor ‘n ander Suid-Afrikaanse vrou wat ‘n boek geskryf het, het ek gedink Katja het net so ‘n aangrypende storie, en het ek daar en dan aan hulle geskryf. Ek het aanvanklik niks van hulle gehoor nie, maar hulle het tog later kontak gemaak en ‘n datum vasgestel”.
Hier is die insetsel oor Katja op Kwêla as jy dit gemis het:
Katja het Donderdagmiddag ná die uitsending oor ‘n koppie koffie aan Laevelder vertel dat die span van kykNET baie professioneel was. “Daar was vyf van hulle, en hulle het my so op my gemak gestel. Johnny Davids, die veldaanbieder het begin vrae vra, en toe ek weer sien wys die regisseur net vir al my vriendinne om te ‘sjuut’. Ons het niks oorgeskiet nie, maar was omtrent vir vier uur besig en op die ou end is daar maar omtrent 10 minute daaruit saamgestel.”
Dan vertel Katja ook hoe sy haarself deesdae besig hou. “Sendingswerk neem die meeste van my tyd in beslag – ons samel klere in vir die Nelspruit Gemeenskapsforum, en besoek gereeld die ou mense in tehuise waar ons saam met hulle sing, gesels en grappies maak.” Op die vraag of al die rondrits haar nie uitput nie, antwoord sy bloot – “‘n Mens het ‘n rede nodig om in die oggend op te staan en jou aan die gang te hou.”
Katja het op 31 Julie haar 90ste verjaardag gevier en haar motorlisensie is ook onalangs hernu. Sy Skype graag haar Poolse niggies en nefies oorsee en praat steeds Pools, Duits en Russies en Engels – en dan Afrikaans soos ons op Kwêla kon sien. Sy is ook geen vreemdeling op Facebook – of “Facelift” soos sy dit noem nie – Twitter en luister ook graag na Poolse musiek op haar nuwe tablet.

• Wil jy graag meer weet hoe Katja in Mbombela beland het en waar haar boek se naam, Those miraculous sunflower seeds, vandaan kom? Kontak Sharon Cronjé (stuur gerus ‘n epos na shafred@telkomsa.net) om jou kopie te bestel, of lees meer by www.thosemiraculoussunflowerseeds.weebly.com
Hy is ook by The White Rose Bookshop in Nelspruit te koop.
