Die geskiedenis leer ons die Laeveld is leeuwêreld
Net in geval inwoners dalk dink die leeu se brul is eerder ‘n volstruis se lawaai, wees maar versigtig, want niks is onmoontlik in die Laeveld nie.

MBOMBELA – Om ‘n leeu sommer hier digby die stad te sien, is glad nie ‘n onmoontlikheid nie. Dis wat geskiedenis ons leer… en hiérdie is leeuwêreld!
In September 1993 is ‘n groot leeumannetjie minder as vyf kilometer buite die voormalige Nelspruit doodgeskiet. Dié leeu het ‘n week lank die bewaringsmanne ontwyk en is op verskeie plekke om die stad gewaar.
Sy spore is op die plaas van oom Toon Heyneke opgemerk en daar is onmiddellik ‘n soektog van stapel gestuur; maar hy was te slim. Laevelder-lesers het die leeu op die N4 digby Halls oor die pad sien loop.
Daar was berigte dat hy op die Matumi-gholfbaan gesien is, en toe is hy op die Uitkykpad gewaar.
Hy het selfs by die landboukollege ‘n draai gemaak, maar ‘n paar dae later was hy terug op die Heynekes se plaas waar hy twee beeste doodgebyt het.
Een daarvan was ‘n dragtige koei. Die leeu het haar maag ooopgebyt en die ongebore kalfie geëet.
Dit is net dáár waar die maanhaar doodgeskiet is. Die dooie leeu is agterop ‘n bakkie gelaai en na Laerskool Laeveld geneem sodat die kinders dié dier van naderby kon beskou.

Maar in die vroeë vyftigerjare was daar ook ‘n voorval en dié het gebeur waar die skouterrein vandag is.
Oom Andries Roetz wat vroeër vanjaar op die ouderdom van 87 jaar oorlede is, het graag vertel hoe hy en oom Ossie de Kock een nag ‘n leeumannetjie langs die kanaal by die skouterrein voorgelê en doodgeskiet het.
Die twee manne het destyds by die ou Transvaal Koelkamers gewerk. Hulle het ‘n paar slagbeeste op ‘n veldjie naby die skouterrein aangehou en ‘n rondloperleeu het onder die diere begin vang.
Oom Andries kon ook ‘n foto wys waar hulle by die dooie leeu sit.

Dié Laeveldpionier, wat in 2012 oorlede is, het self ‘n onderonsie met ‘n groot kat gehad, maar dié keer ‘n luiperd.
Oom Andries het al sy lewe lank op Claremont gewoon wat destyds twee en ‘n half uur se ry van Nelspruit af was.
Hy het met beeste geboer en was bekend as ‘n uitstekende skut. In 1958 het ‘n ongedierte weggedwaal uit die ruie klowe van Shandon na die skaapkraal, nie ver van sy woonhuis af nie.
Snags is daar tot 10 skape verskeur en doodgebyt. ‘n Skaapwagter het een nag die dier mooi in die maanlig gesien en kon uitmaak dat dit ‘n luiperd was. Hulle het besluit om hom van kant te maak.
Drie van oom Andries se vriende, wat Danie Nel van die plaas Uitkyk ingesluit het, het die jagtog saam aangepak. Dit was ‘n senutergende soektog in die ruie klowe.
Op die derde dag is oom Danie onverwags vanuit die ruigtes deur die luiperd aangeval. Hy is ernstig beseer maar het tog daarin geslaag om die dier ‘n doodskoot te gee.

Net in geval inwoners dalk dink die leeu se brul is eerder ‘n volstruis se lawaai, wees maar versigtig, want niks is onmoontlik in die Laeveld nie.
