“Skool” by die huis
Op die stadium weet Vicky nog nie of hulle hul kinders na 'n openbare hoërskool gaan stuur nie, maar volg hulle net die Here se plan vir hul gesin.
MBOMBELA – “Dit gaan vir my oor meer as akademie, maar om te fokus op karakterbou en om die regte waardes vir my kinders te leer,” so voel Vicky Sevenster, ‘n ma wat vir die afgelope vyf jaar al tuisonderrig gee. Talle Suid-Afrikaners voel dit is beter om hul kinders in skole te sit sodat hulle met ander kan sosialiseer, aan sport kan deelneem en in ‘n groep kan werk. Maar vir Vicky en haar twee kinders, Ivan (9) en Chevonne (11) is dit alles behalwe alleen. Die Here het dit op Vicky en haar man se harte gelê dat sy die kinders self moet onderrig, en hulle was gehoorsaam aan Sy stem. Hulle behoort ook aan die Lowveld Homeschoolers-klub saam met 20 ander gesinne in die Laeveld.
Die gesinne hou een keer ‘n maand ‘n wys-en-vertel-byeenkoms en het ook een keer ‘n maand ‘n entrepreneursdag by Church Unlimited. Dit gee kinders kans om saam met mekaar te kuier en net om die kinderlewe te geniet. “Die wys-en-vertel-dae is ook ‘n ondersteuningsnetwerk vir mamma’s wat dalk met iets by die huis sukkel. Ons bemoedig mekaar,” vertel sy.
Op die stadium weet Vicky nog nie of hulle hul kinders na ‘n openbare hoërskool gaan stuur nie, maar volg hulle net die Here se plan vir hul gesin. Ivan en Chevonne het Afrikaans, Engels, wiskunde, wetenskap, biologie, anatomie en geskiedenis en word in Engels onderrig. Daar is ‘n wye verskeidenheid van kurrikulums om van te kies en elke ouer kan die een kies waarmee hulle gemaklik is. Vicky hou baie van roetine, maar ander ma’s dalk nie.
“Dit is die lekker ding, elke ma kan haar kinders onderrig nes sy wil.” Hulle begin elke oggend om 08:00 en eindig om 13:30. Hulle het ook klein pouses tussenin. Na skool het albei aktiwiteite waaraan hulle deelneem soos swem, dans en stoei. Van die tuisonderrigkinders gaan ook gereeld saam met hulle ma’s op opvoedkundige uitstappies en hulle maak altyd seker dat daar saamgespeel word. “Dit is vir my baie belangrik dat my kinders speel,” sê Vicky.
Volgens dié twee is Vicky glad nie ‘n kwaai juffrou nie, maar sy voeg gou by dat sy soms ferm kan wees as een van hulle kanse wil vat. Haar boodksap is dat tuisonderrig baie meer behels as wat mense dink en dat die verhouding bou vir haar baie belangrik is. Die Home Schoolers-klub neem ook vanjaar aan die Eisteddfod deel waarop hulle baie trots is. As jy graag jou kinders wil tuisonderrig, kan jy hulle by die Departement van Onderwys registreer. Hulle doen daarna ‘n huisbesoek om te sien of jy geskik is daarvoor en dan kan jy kurrikulums begin kies.
Dit is vir Vicky ook belangrik om die “tuis by die huis” gevoel te behou en daarom sal sy laat hulle onder komberse of op sagte banke sit terwyl sy klas gee. Chevonne en Ivan het ‘n mooi, oop verhouding met Vicky en sy gee hulle vinnig ‘n kans om ‘n storie te vertel. Die liefde tussen hulle is mooi om te aanskou.
