Roekelose bestuurder maak ‘n ongeluk in Rissik straat
Die aanbreek van lente spreek van nuwe lewe, maar Dinsdag 2 September kon baie maklik in 'n tragedie vir 'n paar gesinne ontaard het.
KOMATIPOORT – Die aanbreek van lente spreek van nuwe lewe, maar Dinsdag 2 September kon baie maklik in ‘n tragedie vir ‘n paar gesinne ontaard het.
Spelers van Komatipoort Akademie was die middag kort voor 17:00 ywerig besig om sokker te oefen.
‘n Goudkleurige Audi het sy opwagting in Skoolstraat gemaak en ‘n paar keer op- en af gejaag. Ooggetuies op die krieketveld reken dat die voertuig minstens teen 90-100 kilometer gejaag het.
Die bestuurder het in die rigting van Rissikstraat in Skoolstraat voortgesnel en by die stopstraat beheer verloor en in vier motors ingeploeg.
Een van die haarkapsters wat saam met nog ‘n persoon buite Turning Heads-salon gestaan het, moes haarself vinnig uit die pad maak om ‘n tragedie te voorkom.
Die bestuurder van die motor het blykbaar sy vriend se motor wederregtelik en sonder toestemming gebruik. Die eienaar het kort na die ongeluk, duidelik ontsteld, op die toneel aangekom.
Die skuldige is vir alkohol getoets op die toneel in hegtenis geneem. Hy was vermoedelik dronk aangesien ‘n bierblik aan die bestuurskant gevind is en die inhoud daarvan oor hom en in die motor uitgeval het.
Die passasier was ‘n familielid van die bestuurder en het hoofbeserings opgedoen terwyl dié se vrou se arm beseer is. Die plaaslike dokters was gerieflik naby en het die beseerdes op die toneel gestabiliseer waarna Securicon Lowveld se ambulansdienste hul na die hospitaal vervoer het.
Die Audi was ongelisensieerd en die motor se permit het reeds op 2 Julie verval. Dit is vermoedelik dieselfde motor wat die afgelope tyd tot inwoners se onsteltenis hul rus en vrede verstoor het.
