Swak padtekens oorsaak van baie ongelukke
Die Bantam het teen die hoekpaal van ‘n huis aan die oorkant van die straat tot 'n stilstand gekom.
Die soveelste ongeluk het verlede week in Van Niekerkstraat plaasgevind toe die bestuurder van ‘n klein Nissan-bakkie wat aan Radio Vision behoort, oor ‘n stopstraat in Andrewsstraat gery het en met ‘n Bantam-bakkie gebots het.
Die Bantam het teen die hoekpaal van ‘n huis aan die oorkant van die straat tot ‘n stilstand gekom.
Slegs een insittende, ‘n kind, het beserings opgedoen en is na die provinsiale hospitaal geneem. Volgens die bestuurder van die Nissan, wat nie die dorp ken nie en slegs vir die dag hier werksaam was, het hy glad nie die padteken gesien nie.
By nadere odersoek het Barberton Times vasgestel dat dit heel moontlik is, aangesien hierdie stopstraat een van vele is waarvan die merke op die ry-oppervlak so verdof is, dat dit bykans onsigbaar is.
Die stopteken is wel daar, maar is in so ‘n vervalle toestand dat dit ‘n groot moontlikheid is dat dit misgekyk kan word, veral deur besoekers. Die koerant het onlangs oor die gereelde kleiner ongelukke wat plaasvind as gevolg van vervalle padtekens, berig.
Telkemale is die verantwoordelike persone besoekers wat nie die uitleg van die dorp ken nie. Aangaande ‘n vorige skrywe aan die direkteur van gemeenskapsdienste, Comfort Makhanya, wag die koerant nou nog vir terugvoer en wil dit voorkom asof die probleem nie belangrik genoeg geag word nie.
Daar sal dringend werk gemaak moet word indien hierdie insidente in die kiem gesmoor word, voordat dit iemand se lewe kos.
Barberton Times het daarom besluit om dit tot die belastingbetalersvereniging te wend, in ‘n poging om reaksie van Makhanya te verkry, en sal in ‘n opvolgartikel weer hierdie onderwerp aanspreek.
