Fotograwe word vereer vir hul vermoeë om orgideë op kamera vas te vang
Van Wyk het ‘n algehele eerste plek in die orgideë fotografie-kompetisie verower en Joubert het met sy rare spinnekop orgideë spesie (Bartholina burmanniana) ‘n eerste plek.

LYDENBURG – Die 21ste Wêreld-orgideëkonferensie en Skou is van 10 tot 14 September by die Sandton Convention Centre in Johannesburg gehou.
Dié skou het meer as 10 000 vierkante meter beslaan (twee rugbyvelde) vir die uitstal van plante en blomme. Dit vind elke drie jaar plaas en word as die “Olimpiese Spele van Orgideë” gereken. Dit was dan ook een van die mees buitengewone botaniese gebeurtenisse wat ooit in SA gehou is. Die tema was “Goud in die Groen Era”.
Orgideë van regoor die wêreld is ingeskryf om beoordeel te word en verskeie orgideë-koekversiering- skilder- en fotografiekompetisies is ook aangebied met internasionale deelname. Die vleiland-, broodboom- en Kaapse fynbosuitstallings was veral asemrowend mooi.
Basie Joubert en Theo van Wyk van Lydenburg het beide eerste plekke op die skou verower.
Van Wyk het ‘n algehele eerste plek in die orgideë fotografie-kompetisie verower en Joubert het met sy rare spinnekop orgideë spesie (Bartholina burmanniana) ‘n eerste plek verower en ook ‘n algehele tweede plek in die orgideë fotografie-kompetisie. Siende dat daar soveel inskrywings in die onderskeie katogorieë was, en die standaard so hoog was, asook dat internasionale panele boordelaars die beoordeling gedoen het, was albei aangenaam verras met hul prestasies. Joubert, `n kankerlyer, loop oor van dankbaarheid aan sy Skepper vir hierdie hoogtepunt in sy lewe.
Die volgende skou word in 2017 in Guayaquil, Ecuador gehou.


