Local newsNews

Spieëltjie, speëltjie, aan die wand, wie het die grootste arms in die land?

As jy die maatband vat om Koos Swart s'n te meet, lees dit 72 sentimeter en die skaal se wysertjie dui 'n massiewe 158 kilogram aan.

MBOMBELA –  In die gimnasium bench press hy maklik 265 kilogram én dit is nie eens die swaarste wat hy kan oplig nie.

“Ek het ‘n paar jaar gelede my rug in die gimnasium beseer, maar dit het ten volle herstel en dit gaan nie meer lank wees voordat ek wéér oor die 300 kilogram gaan nie,” vertel Swart. Kort voor sy besering, het hy vir sy eerste kompetisie voorberei, maar kon as gevolg van die groot terugslag nie deelneem nie.

Dié 31-jarige kan ‘n Toyota Yaris aan sy agterkant oplig en ook trokke van 18 ton trek. “Die geheim om so ‘n groot trok te trek, is dat jy hom eers aan die gang moet kry en so plat as moontlik vorentoe moet lê. Daarna is dit maklik.”

Wanneer Swart aan sy jonger dae terugdink, praat hy van homself as ‘n kiewiet.

“Ek het die geleentheid gehad om by die spierbouer, Corrie Rautenbach te oefen.

Hy het in die 1990’s sy Suid-Afrikaanse kleure in die sport verwerf. Hy het ‘n gimnasium in Kroonstad gehad en ek het twee keer ‘n week ingery dorp toe om te gaan oefen.”

In 2009 het hy 130 kilogram geweeg en die omtrek van sy arms was 48 sentimeter.

Aan die einde van 2010 het hy drie ligte hartaanvalle gehad en al sy harde werk het in ‘n oogwink platgeval.

“Ek het op Kersdag inmekaar-gesak. My klere het soos sakke aan my gesit. Ek kon eers twee jaar later weer ernstig begin oefen en gelukkig na net drie maande het ek al die gewig wat ek verloor het, weer opgetel.”

Swart is nog nie eens twee maande in Mbombela nie en hy vertel dat hy ook nie spyt is dat hy die pragtige dorp sy nuwe tuiste noem nie.

Hy het baie planne om in die Laeveld vir homself naam te maak en beplan om so sterk te word dat hy twee trokke (36 ton) wat hy aan mekaar koppel, gelyk kan trek.

Besoek Laevelder se webblad indien jy nie glo dat hy 280 kilogram kan bench nie – ons was daar om dit met ons eie oë te sien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button