Hard newsLocal newsNews

Inwoners wil alle bande met munisipaliteit breek

"Die realiteit is dat dit (staatsinstellings) nie beter gaan word nie. Dis nou die tyd dat gemeenskapslede moet hande neem."

DULLSTROOM – Inwoners van dié dorp wil afstig en afsonderlik van die munisipaliteit funksioneer.

Dit volg nadat onwettige stakings deur munisipale werkers die dorp vir die afgelope paar maande lamgelê het en inwoners met tye met die hande in die hare gelaat het.

Volgens ‘n verslag van een van die DA-raadslede, mnr. Verne Lello, het ‘n ses weeklange staking vroeg in Januarie breekpunt bereik toe betogers rommel in die strate gestrooi en paaie probeer versper het.

SANDF-lede is ontplooi om ‘n wakende oog oor die watersuiweringsaanleg te hou, maar is volgens die verslag met klippe en bakstene aangeval. Sommige van hulle moes mediese behandeling ontvang.

Vullishope is tot oorlopens toe vol en sabotasie aan die watersuiweringsaanleg en reservoirs is verskeie kere aangemeld. Riool het in die strate afgeloop en luidens die verslag het dit selfs in die Krokodilrivier ingeloop.

Volgens ‘n inwoner het hulle selfs verlede jaar ‘n dooie bees in die Dullstroomdam aangetref.

Die burgemeester van Emakhazeni, mnr. Xolani Sydney Ngwenya, het egter gesê dat hy nie bewus was van riool wat in die Krokodilrivier inloop nie. Hy het Woensdag bevestig dat al vier dorpe wat onder Emakhazeni-munisipaliteit val se water drinkbaar is. “Dullstroom, Belfast, Machadodorp en Waterval Boven se water is volgens labaratoriumverslae veilig om te drink,” het hy gesê en bygevoeg dat sodra ‘n labaratorium negatiewe resultate optel, dit onmiddellik aan die gemeenskap gekommunikeer sal word.

In ‘n desperate poging om die toekoms van Dullstroom te bespreek, het inwoners onlangs ‘n vergadering geroep om hul opsies op te weeg. Een hiervan was dat die gemeenskap as ‘n geheel ‘n formele dispuut met die munisipaliteit verklaar en ophou belasting en diensgelde betaal met onmiddellike effek. Om af te stig is ook genoem.

Maar volgens mnr. Tiaan Esterhuizen, die hoof van plaaslike strukture by AfriForum, is dit makliker gesê as gedaan en boonop onwettig om nie belasting te betaal nie.

Hy sê samewerking tussen die inwoners en die munisipaliteit is die ideaal. Hy het Vryburg in Noordwes as ‘n voorbeeld gebruik en gesê dat wanneer die gemeenskap en munisipaliteit mekaar halfpad ontmoet, jy ‘n wenresep beet het. “As die munisipaliteit byvoorbeeld toerusting verskaf en die gemeenskap doen die werk, funksioneer ‘n dorp suksesvol.”

Hy meen staatsorganisasies gaan net verder verval en hoe vinniger die gemeenskap self take kan verrig, of die privaatsektor nader om dit namens die munisipaliteit te doen, hoe beter. Volgens Esterhuizen kan geld teruggeëis word van die munisipaliteit in so ‘n geval, maar is dit ‘n tydsame proses.

“Die realiteit is dat dit (staatsinstellings) nie beter gaan word nie. Dis nou die tyd dat gemeenskapslede moet hande neem.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button