Innibos 2015 feesterrein-kaartjies vanaf 2 Maart beskikbaar
Die tyd raak min, skaf solank jou Innibos-feesterreinkaartjies aan.

Kaartjies vir die Innibos-feesterrein is vanaf Maandag 2 Maart By Computicket beskikbaar. Die fees vind vanaf 1 tot 4 Julie in Nelspruit plaas, en almal wat dit reeds in die verlede bygewoon het weet dat die aandkonserte op die Standard Bank-hoofverhoog nou reeds legendaries is. Die Saterdagaand Jacaranda -konsert is die wêreld se grootste opelug Afrikaanse konsert. Meer as 35 000 mense het hierdie vertoning in 2014 bygewoon en vir die eerste keer in die fees se geskiedenis moes die hekke teen 19:00 gesluit word omdat die terrein tot kapasiteit vol was. Vanjaar is daar meer as 50 van Suid-Afrika se top kunstenaars wat vanaf Woensdag tot Saterdagaand op die hoofverhoog optree.
Op Woensdagaand 1 Julie is daar ‘n hele klompie hartebreker-manne op die verhoog by die Huisgenoot Afskopkonsert. Bobby van Jaarsveld, Adam, Dewald Wasserfall, Die Heuwels Fantasties, Joshua na die Reën, Jak de Priester, Elvis se Seun, Manie Jackson, Ghapi en die sexy drommers van 1st Project gaan verseker die evasgeslag se harte lekker warm laat klop. En vir die manne is daar darem ook ietsie : die pragtige aanbieder Tracey Lange (van Bravo-faam) is vanjaar die roos tussen die dorings as sy as MC optree by hierdie konsert.
Op Donderdagaand maak ons ‘n nostalgiese draai by kunstenaars wat letterlik op die kamers van ons harte ingegrafeer is. Wie wil nie graag legendes soos Laurika Rauch , Rina Hugo, Sonja Herholdt, Anton Goosen, Lance James, Danie Niehaus, Andre Schwartz, Jannie du Toit, en Randall Wicomb saam op die verhoog in aksie sien nie? Kinders van die Wind, Jantjie, Kruidjie roer my nie, Dankie… daardie liedjies bring almal goue herinerringe. Die KykNET Legendes Konsert gaan jou hart toedraai in ‘n moskombersie, om Laurika se woorde te leen.
Vrydagaand is KykNET Konsert met ‘n konsert uit die boonste rakke! Die naweek skop sommer op ‘n hoë noot af as Riana Nel, Bok van Blerk, Jay, Theuns Jordaan, BlackByrd, Andriette Norman en Lianie May jou hart aan die brand begin sing! Dit is gewis van Suid Afrika se beste kunstenaars saam op die verhoog, en jy gaan jammer wees as jy hierdie een misloop.
En Saterdagaand is dit die grote: Die Jacaranda-konsert! Met 21 top kunstenaars, spesiale effekte, choreografie en ‘n skouspelagtige verhoog, beloof hierdie konsert om rooiwarm te wees. Met Juanita du Plessis, Elvis Blue, Claire Johnston, Kurt Darren, Karen Zoid, Robbie Wessels, Nicholis Louw, Ray Dylan, Elizma Theron, MoniQue, Kevin Leo, Toti, Jason Bradley, Nádine en ‘n spesiale gasoptrede deur Coenie de Villiers beloof dit ‘n skouspel wat nog lank onthou sal word.
Onder die bekwame regisseurshand van Barry Pretorius, wat ook vir Afrikaans is Groot en die Ghoemas verantwoordelik is, en met musiek-regie deur Dee-Dee van der Hooven is dit iets wat jy nie durf misloop nie.
Op Sondagaand word daar oudergewoonte ‘n gratis ATKV-iVrede Innibos-vertoning aangebied . Daar sal eers ‘n kort boodskap en daarna samesang gelei deur Onbeskaamd wees en direk daarna die pragtige ATKV iVrede konsert. Musiek is een van die elemente wat ‘n land en sy mense kan één maak en laat saamleef in vrede en harmonie. Vrede en stabiliteit was lanklaas so nodig in SA soos nou. Met iVrede word gepoog om die boodskap van liefde, vrede, broederskap en nasietrots deur te gee. Met Corlea Botha, Ilse Klink, Louis Loock en Brandon October saam met die Noordwes Jeugkoor en ‘n orkes onder leiding van Ockie Vermeulen, gaan hierdie ‘n sielsverrykende ervaring wees. Amore Bekker is die gasvrou.
Kaartjieverkope
Kaartjies vir die feesterrein is vanaf 2 Maart by Computicket landwyd beskikbaar.
In Nelspruit is daar ‘n Computicket verkooppunt by I’langa Mall ( Pick ‘n Pay-ingang), Riverside Mall (Checkers-ingang) en by die KLCBT Toerismekantoor by Crossing. Daar is nie ‘n kaartjie-verkooppunt by die Innibos-kantoor nie. Kaartjies kan ook via die internet by www.computicket.com bespreek.
Woensdag 1 Julie 2015: R90
Goue sirkel: R50
Donderdag 2 Julie 2015: R90
Goue sirkel: R50
Vrydag 3 Julie 2015: R130
Goue sirkel: R75
Saterdag 4 Julie 2015: R160
Goue sirkel: R200
Sondag 5 Julie 2015: Gratis ATKV Loof Hom Innibos konsert
Pensioenarisse / senior burgers (bo 60 jaar) of met pensioenkaart: Donderdag R50
Voorskoolse en laerskoolkinders (onder 12 jaar) GRATIS
Weekkaartjie: R420 (slegs 1 500 beskikbaar)- verleen toegang vir die hele feestydperk.
Onthou dat die kaartjie jou ook gratis toegang gee tot al die vermaak op die feesterrein. Daar is, buiten vir die Standard Bank-verhoog waar die groot konserte elke aand plaasvind, nog vier ander kuierverhoë waar heeldag lank vermaak uit die boonste rakke aangebied word. Top kunstenaars soos PJ Powers, Burgert en Zita, Beeskraal en vele ander is hier te sien. Voeg hierby die Boma Kuierteater, met kort toneel-aanbiedings, die Apies Innibos kindervermaak-saal, 350 kunsmarkstalletjies, heerlike eetgoed, en ‘n rock-konsert op Vrydag en Saterdagaand, en jy het die resep vir ‘n feestelikheid wat jou hart sommer warm gaan laat klop!
Opskud – kry jou kaartjies sommer gou, en maak seker dat jy die grootste feesmakietie van die jaar nie misloop nie!
NOTA: Die produksieprogram met toneel en ander musiek en woordproduksies word op Vrydag 15 Mei bekendgestel en kaartjies daarvoor is vanaf 18 Mei by Computicket bekikbaar.
