Pumas skop tweede ronde in Namibië af
Na 'n 57-18 oorwinning teen die DownTouch Griffons in hul openingswedstryd verlede Vrydag gaan die Steval Pumas 'n paar nuwe spankombinasies teen die onbekende Namibiërs uittoets.
Die Steval Pumas gaan vir die eerste keer op ‘n Namibiese veld uitdraf wanneer hulle die Welwichias in die tweede ronde van die Vodacombeker vanaand om 19:00 in Windhoek aandurf.
Na ‘n 57-18 oorwinning teen die DownTouch Griffons in hul openingswedstryd verlede Vrydag gaan die Steval Pumas ‘n paar nuwe spankombinasies teen die onbekende Namibiërs uittoets.
Daar is ses veranderinge aan die Pumas se 22-tal gemaak, met Rudi Mathee, Justin van Staden, Drew van Coller en Ruwellyn Isbell wat in die beginspan ingesluit is. Die skrumskakel, Johan Herbst, maak ook sy debuut op die plaasvervangerbank.
Volgens Pumas-afrigter, MJ Mentz gaan die wedstryd teen Namibië se Welwitchias ‘n totaal ander uitdaging bied.
“Dit gaan ‘n nuwe ervaring wees, aangesien hul spelers nie noodwendig aan ons bekend is nie. Ons het wel na videogrepe van hul wedstryd verlede week gekyk om ‘n aanduiding van hul speelpatrone te kry,” het Mentz genoem.
Slot, Rudi Mathee, is weer op die been na sy beserings en gaan wil seker maak dat hy en kaptein Eduan van der Walt ‘n gedugte
slotpaar vorm.
“Ons sien baie uit na wat Rudi Mathee gaan bring. Hy het baie ervaring en ‘n honger in hom om goeie rugby te speel,” het Mentz gesê.
“Oor die eerste 60 minute het ons goeie konstruktiewe rugby gespeel maar die laaste
20 het ons ongedwonge foute gemaak, en n paar onnodige strafskoppe afgestaan.”
“Ons fokus is op die naweek en nie op die wedstryde in die toekoms nie. Ons vat dit wedstryd vir wedstryd. Ons wil graag ons volle potensiaal in die finaal bereik,” het hy bygevoeg.
Op hierdie stadium is ons ‘n groep van 40 spelers wat goed genoeg is om die span te maak. Ons glo dat dit belangrik is om kombinasies in die begin van die seisoen uit te toets en ons beste kombinasies vir later te hou wanneer die uitspeelwedstryde kom.
Vir Steval Pumas se nuwe kaptein, Eduan van der Walt is dit ‘n groot voorreg om die span op die veld te lei veral aangesien dié Pumagroep ‘n baie hegte eenheid is. Hy was ook tevrede met verlede week se 57-18 oorwinning en wil voortbou teen die manne van Namibië.
“Ek dink ons het goed gedoen in die vaste fasette, ons skrums en lynstaandrywe was goed en ons hoop om dit vol te hou gedurende die Vodacombeker. Ons gaan fokus om die bal by die afbreekpunte beter te beskerm en seker te maak dat ons balbesit hou,” het Steval Pumas-kaptein Eduan van der Walt, afgesluit.
Die Pumas se volgende tuiswedstryd gaan teen die Assupol Blou Bulle in Secunda wees. Dit vind op 21 Maart plaas en begin om 16:00.
Spanlys
1. Khwezi Mona
2. Jacques Momberg
3. Drew van Coller
4. Rudi Mathee
5. Eduan van der Walt (kaptein)
6. Brian Shabangu
7. Lambert Groenewald
8. Jason-Colin Fraser
9. Reynier van Rooyen
10. Justin van Staden
11. Marcello Sampson
12. Stefan Watermeyer
13. Wilmaure Louw
14. Ruwellyn Isbell
15. Heinrich Steyl
16. Francois du Toit
17. Sabelo Nhlapo
18. Jannie Stander
19. Uzair Cassiem
20. Johan Herbst
21. JC Roos
22. Jerome Pretorius.
