Hard newsLocal newsNews

‘Hy is nie melaats nie, hy is net ‘n kind’

"As mense tog net wou besef hy is nie melaats nie. Hy is net 'n kind. Hy is 'n mens en binne hom is iemand,"

MBOMBELA – Aan ‘n dun swart toutjie hang ‘n houtkruis voor haar bors. Jackie van Wyngaard is ongetwyfeld braaf, maar vandag is sy ook broos. Want om vir 4 380 dae ononderbroke ‘n serebraal gestremde seun nie net aan jou sy te hê nie, maar ook in jou siel saam te dra, maak van die ideale ma, ook net mens.

Trane skiet in haar groen oë en breek soos ‘n brander oor ‘n keerwal. “Askies,” maak sy verskoning en die daaropvolgende stilte is luidrugtiger as haar stem.

Op 20 November 2002 lê Jason, die eens perfekte bondeltjie in haar buik, reeds met ‘n blou gesig op die bank. Hy het kort tevore ‘n bariummaal gekry en komplikasies het ingetree. Barium is ‘n vloeistof wat sigbaar is wanneer X-strale van die slukderm en maag geneem word. “Dit (barium) het opgestoot en in sy longe beland,” vertel Jackie. “Ek was nie tuis nie,” en jy hoor hoe ‘n tikkie selfverwyt aan haar siel wil-wil torring.

Jason se ouers het na sy geboorte besef dat hy nie behoorlik kon sluk nie en is aangeraai om ‘n bariumtoets te laat doen om vas te stel wat die oorsaak is. Na die voorval sou hulle uitvind dat dié toets nie op kinders onder ses maande gedoen behoort te word nie. Jason was toe maar drie maande oud.

Sy pa, Johan, het met hom hospitaal toe gejaag, maar die lang tyd sonder suurstof het reeds sy letsel gelaat. Jason is vir drie weke onder verdowing geplaas en in die hoësorgeenheid in ‘n Bloemfonteinse hospitaal opgeneem. Hy het infeksie opgedoen en al sy organe het gaan staan. In ‘n laaste verbete poging is spesiale medikasie van oorsee af ingevlieg, maar die skade was reeds gedoen. “Dokters het gesê dat hy nie daar sou uitkom nie, en al sou hy, sou hy ‘n vegetable wees,” sê Jackie sag.

Vandag, 12 jaar later, sluk sy steeds swaar aan hierdie woorde en erken openhartig hoe seer dit werklik maak en hoe sy die woord vegetable verafsku. “Dis amper so erg soos shame,” laat sy hoor, en jy hoor die veggees vir haar kind in haar stem.

Vandag glo Jackie sy is ‘n sterker mens, maar wat haar bitter maak, is die feit dat mense ‘n blinde oog vir hierdie kinders draai. “Dit maak seer,” sê sy en vertel dat van die ouers selfs skaam is vir hul eie kinders. “Sommiges word selfs weggesteek en wil nie met Dasha geassossieer word nie. Dit breek ‘n mens, want dit is instellings soos hierdie wat die lewe draaglik maak. Ek sal my hande stompies werk vir hulle.”

Dasha is ‘n skool vir gestremdes in Mbombela wat kinders soos Jason weekliks van 08:00 to 17:00 akkommodeer. “Dit is jammer dat mense bang is vir kinders soos hierdie. Jason, net soos al die ander, is nie melaats nie – hy is net ‘n kind – ‘n mens en binne hom is iemand.”

Jason is serebraal gestrem, outisties, lei aan epilepsie en is kordikaal blind (hy kan sien, maar sy brein kan nie voorwerpe benoem nie). Hy is op doeke en benodig voltydse versorging. Jackie en Johan se voorliefde vir bergklim sou ook skielik ten einde loop. “Ons het 12 jaar laas gaan stap,” sê sy en verduidelik hoe hul gesinslewe in ‘n oogwink verander het. Maar ten spyte van hierdie uitdagings, sê Jackie dat sy nie haar lewe sonder Jason kan indink nie. “Ja, dit is moeilik en elke dag is ‘n uitdaging, en jy kry jou dae waar jy voel jy wil voor ‘n kar inloop. Maar ek kan met alle eerlikheid sê dat ek nie my lewe vandag sonder Jason kan voorstel nie. Hy bring ongeag hierdie moeilike omstandighede soveel vreugde.”

Jackie vryf saggies oor die houtkruis. “Jy weet, geloof is ons gom. Dit is die Here wat ons dra. As ons geluk van ander mense sou afhang…” En haar woorde verdwyn. “As mense tog net wou besef hy is nie melaats nie. Hy is net ‘n kind. Hy is ‘n mens en binne hom is iemand,” herhaal sy.

Sy vat ‘n slukkie van haar koue koffie wat vir twee uur onaangeraak voor haar staan en sê dan vasberade: “Vandag is ek gestremde kinders se stem. Mag ons elkeen voortaan wegkyk van die gebrek, die kind agter die kruk raaksien en uitreik na mekaar, want as ouer weet jy jy moet aanvaar, maar jy sal altyd, altyd, bly hoop.”

Lees meer oor Dasha en hoe jy ‘n bydrae kan lewer om verligting te bring op hul webtuiste.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button