Soektog na die fraaiste in die land geloods
Dit gaan die eerste keer sedert 2007 wees wat dié kompetisie weer gehou gaan word.

MBOMBELA – “Ek wil iets fenominaal vir die Laeveld bied.” Dit is die woorde van oudmodel en ook eienaar van Ramps to Runway, Manda Gomes.
Sy organiseer ook vanjaar se Mnr. en Mej. Laeveld wat in Mei plaasvind. Dit gaan die eerste keer sedert 2007 wees wat dié kompetisie weer gehou gaan word.
“My persoonlike loopbaan het by hierdie kompetisie begin toe ek as Mev. Laeveld in 2007 gekroon was, daarom is die kompetisie baie na aan my hart,” sê Gomes. Dit gaan nie ‘n tipiese skoonheidskompetisie wees waar daar slegs 12 finaliste gekies gaan word om deel te neem nie. “Ek wil graag hê almal moet ‘n gelyke kans staan om die kroon te wen. My doel is om 150 mense van ons gemeenskap op die loopplank te kry.”
Volgens haar kom daar internasionale talentsoekers om die geleenthede aan te bied. “Ek wil hê enigiemand moet ‘n kans kan staan om te wen, al het hulle nog nooit modelwerk gedoen nie. Ek wil ook graag die manne aanmoedig om in te skryf,” sê sy.
Die kompetisie vind op 16 Mei by die Emnotweni Arena plaas. As jy belangstel om in te skryf, skakel Manda Gomes by 072-461-6777.
