Neels van Jaarsveld is vanjaar…Innie Rof
Komies, realisties, vermaaklik en toeganklik is hoe Van Jaarsveld dit opsom.

Hy is doodgewoon. Die ou langsaan. Iemand wat ongemerk sy daaglikse gang gaan. Dis asof niemand na hom sal verlang as hy iets oorkom nie. Selfs sy registeronderwyser by wie hy sy hele hoërskoolloopbaan klas geloop het, was verbaas toe sy een oggend in sy matriekjaar sy naam uitlees en nie kon help om te vra “hoe lank is jy al hier?” nie.
Hy is so algemeen hy kan na enigiemand óf na niemand lyk. Hy is so gewoon dat as jy hom van ’n sekere hoek af bekyk, lyk hy soos almal se buurman. Hy is so algemeen soos margarine, aartappelslaai en Sasko-meel. Hy is so algemeen honde blaf nie eens vir hom nie. Hy is so gewoon en oninteressant soos gras. Hy is Jan Alleman … en toe begin hy gholf speel! Innie Rof is ‘n skaterlagkomedie uit die pen van die bekende komedie skrywer, Leon Kruger, met Neels van Jaarsveld, die eish-man, in die hoofrol.
Giep van Zyl is die vervaardiger van die produksie en sê dat dit iets is waarby almal kan baat, behalwe as jy jonger as 14 is natuurlik. Hoewel Van Jaarsveld ‘n absolute gholffanatikus is, gaan die produksie nie noodwendig daaroor nie, maar meer oor die alledaagse lewe.
Komies, realisties, vermaaklik en toeganklik is hoe Van Jaarsveld dit opsom. Leon Kruger het dit reggekry om ‘n volronde teks te skryf wat deur enige teaterganger geniet sal word. Jonk, oud, man, vrou, gholfspeler en nie-gholfspeler.
Hy speel die rol van Jan Alleman. Gewoon, doodgewoon maar met buitengewone drome. Hy soek iets meer uit die lewe. Sy antwoord – gholf. In die produksie spring hy van die een karakter na die ander soos die storielyn ontplooi en die kyker saam met Jan sy roete stap tot hy uiteindelik die setperk haal, Of nie? “Mense gaan maar moet kom loer of ek die trofee van die lewe lig of maar net aangaan asof niks gebeur het nie,” sê hy.
Hy en die karakter het een groot ding gemeen, ‘n passie vir gholf. Die karakter s’n is nog in die begin stadium, maar sy verslawing is ontspoorbaar. Hy wen deesdae selfs vir Van Zyl.
“Ek dink die karakter het wel die vermoë om te groei soos die tyd verloop en ‘n tweede en derde opvolgproduksie is heeltemal waarskynlik,” sê hy. Dit is sy derde eenmanvertoning en alhoewel dit nogal senutergend en by tye baie eensaam is, sê hy is dit aan die einde heeltemal die moeite werd. “Ons plan is om die produksie na die mense toe te vat. Orals gholf te speel natuurlik en dan sommer die stuk op te voer daai aand!” sluit hy af. Van Zyl sê jy kan drie goed uit die produksie leer: Net as jy dink jy is oulik, het die lewe ‘n manier om mens terug te bring aarde toe, net soos gholf. Jy kry ‘n voëltjie by die een put, maar die volgende een sommer twee houe oor baansyfer. Dit leer jou van geduld, en om eers die kat mooi uit die boom uit te kyk. En die belangrikste, om nie die lewe te ernstig op te neem nie.
Dit begin op Woensdag 1 Julie om 10:00; Donderdag 2 Julie om 19:00; Vrydag 3 Julie om 10:00 en Saterdag 4 Julie om 09:00. Dit duur 60 minute en beloop R122 per vertoning. Die venue is Pickfords Laerskool Laeveld.
