FeaturesInnibos NuusLifestyleLocal newsNews

Topvermaak vir elkeen se smaak

Vir diegene wat af en toe hulle voete moes rus en die kele moes laaf, was die vier kuierverhoë op die feesterrein nét die ding.

Vir diegene wat af en toe hulle voete moes rus en die kele moes laaf, was die vier kuierverhoë op die feesterrein nét die ding. Die gehoor is deurentyd vermaak met kort vertonings deur gevestigde sangers soos Mathys Roets tot opkomende kunstenaars soos Talana Vuren en Refentse Morake. Beide weet net hoe om die gehoor se monde te laat oophang. Refenste, die jong Internetsensasie het bitter vinnig bekendheid verwerf met sy kitaar en fluweelstem.
Hoewel kunstenaars soos hy die dak met sy suiwer Afrikaans gelig het, was daar nog ‘n hoogtepunt op die Vodacom-kuierverhoog toe ‘n paartjie voor honderde aanhangers verloof geraak het, kort na Ampie se vertoning.
Daar was voorwaar iets vir elkeen se smaak. Andries Vermeulen het in dieselfde tent die gehoor behoorlik in hul stoele laat hop met Kaapse grappies, afgewissel met Afrikaanse liefdesliedjies.
Die gehoor by die Bosverhoog, wat deur Laevelder en Captain Morgan geborg is, het Andra besonders waardeer. Die sanger-liedjieskrywer het Vrydagmiddag ‘n hele uur gespeel, en steeds wou die gehoor meer hê. Hulle het ‘n encore versoek, maar sommer twee liedjies, asseblief.
Haar rasperstem het ‘n anderwêreldse element aan haar alternatiewe folkmusiek verleen wat verbygangers maklik in hulle spore laat vassteek het.
Buiten hulle het kunstenaars so verskillend van mekaar soos Beeskraal, Armand Hofmeyr, Jennifer Zamudio, Saarkie, Hardus Hartzenberg, BlackByrd, Stadsboer en Sharoney die vier verhoë afgewissel.
Die manne se harklop is aansienlik opgejaag toe die beeldskone BlackByrd en Mwah! hul vietse lyfies rondgegooi het. Hoewel dit ‘n hoogtepunt was, het ‘n paar boerseuns Vrydagaand kort voor middernag mekaar op die grond rongegooi wat ‘n bitter smaak in baie monde gelaat het. Nie net is talle se kuiers kortgeknip nie, maar Beeskraal se vertoning ook.

https://vine.co/v/e1wBt7t0tIj

 

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button