Video: Jongman sonder skedel veg na 500 dae steeds moedig voort
"Maak nie saak hoe moeilik dit is nie, my geloof is en bly groot. Wimpie gaan weer met my praat, dit weet ek. Al is dit eers oor 10 jaar, my seun sal weer met my praat.”
MBOMBELA – 530 dae sedert die geliefde blokman van Bakgat Biltong ernstig beseer langs die pad gevind is, glo sy ma steeds hy sal eendag weer praat.
In Wimpie Boshoff (25) se pa, Willa, se stem is die twyfel egter hoorbaar. “Dis moeilik,” sê hy bevestigend. “Wimpas is maar soos ‘n boks wat asemhaal.”
Op 28 Februarie, 12 dae na Wimpie se 24ste verjaarsdag, was hy in ‘n ernstige motorfietsongeluk op die Longtompas betrokke.
Hy is sowat 85m van die punt van inpak af deur ‘n drawwer, wat ses uur later verby die toneel gehardloop het, gevind.
Wimpie het ernstige breinbeserings opgedoen en sy skedel is in ‘n noodoperasie verwyder.
Die ergste sou egter vir die familie voorlê.
Wimpie is na die Rosecare Hospitaal in Germiston oorgeplaas waar sy skedel teruggeplaas moes word. Dié operasie kon egter nie plaasvind nie en sy sussie Joey verduidelik: “Ons het uitgevind dat die dokters nooit die skedel gevries het nie. Dit het gevrot.”
Die familie vermoed dat dokters waarskynlik nie gedink het dat Wimpie sou bly leef nie.
‘n Plastiekskedel is daarna oor sy brein geplaas, maar ook dié sou later verwyder moes word.
Hy is intussen toegerus met ‘n unieke helm nadat plate wat sy brein beskerm het, deur sy vel begin steek en infeksie veroorsaak het.

Die familie is later verwittig dat hul mediesefonds uitgeput is en dat Wimpie nie meer in die hospitaal kon bly nie. Hy sterk sederdien by die huis aan en word voltyds deur sy ma versorg.
Volgens Ina is daar 24 uur per dag, sewe dae per week iemand aan Wimpie se sy. Gewoonlik sy. Wimpie kan nie praat of self beweeg nie. Hy het geen beheer oor sy spiere nie en kan nie self eet nie. Hy is ook op doeke.
Na maande se versorging tuis, het sy ma egter dié week Meyerton toe verhuis na haar ouers sodat hulle handjie kan bysit.
“Dit was ‘n geweldige moeilike keuse, maar dit kon nie anders nie. Willa móét werk – dit is finansieel ‘n groot uitdaging.”
Ina sê hulle het onlangs noodgedwonge ‘n trust gestig om geld in te samel vir Wimpie.
“Ons is nooit mense wat ander vir finansiële hulp vra nie, maar ons is op ons knieë. Daar kom ‘n punt waar jy noodgedwonge jou trots in jou sak moet steek, want jy weet jou kind het enige hulp nodig. Dit gaan oor hom en om die nodige toerusting te bekom om sy lewe te vergemaklik”.
Hul het skole gevra, indien dit moontlik is of die skool ‘n “blou” dag vir Wimpie kan hou waar elke leerder ‘n geldjie bring om ietsie blou aantrek. Alle geld wat daardie dag ingesamel word, sal sodoende in die trust inbetaal word vir Wimpie se noodsaaklikhede.
Volgens Ina beloop Wimpie se versorging ongeveer R12 000 per maand. Die mediesefonds betaal niks daarvan nie.
Ina sê een van hul grootste wense is om vir Wimpie ‘n tiltbed te koop en sê sy “maak nie saak hoe moeilik dit is nie, my geloof is en bly groot. Wimpie gaan weer met my praat, dit weet ek. Al is dit eers oor 10 jaar, my seun sal weer met my praat.”
Indien enige skool, besigheid of gemeenskapslid ‘n bydrae wil maak ter ondersteuning van die Boshoff-gesin kan Ina gekontak word by 083-412-7307.



















