Editor's choiceLocal newsLocal sportNewsSport

Jong gholfster is gereed om sport droom uit te leef

Dean van Staden (14) het reeds op driejarige ouderdom sy liefde vir gholf ontwikkel en het tot dusver glad nie sy passie en motivering daarvoor verloor nie

STEELPOORT – Dean van Staden (14) het reeds op driejarige ouderdom sy liefde vir gholf ontwikkel en het tot dusver glad nie sy passie en motivering daarvoor verloor nie.

Die afgelope twee jaar is Dean ‘n lid van die Chrome-gholfklub waar hy aktief begin kompeteer het. Hy is die jongste lid in die klub se geskiedenis.

“Dean het van kleintyd met sy pa, Pierre van Staden, se gholfstokke begin gespeel. Sy oupa, Ben Lotter het toe vir hom ‘n gholfstok korter gemaak en van daar af het Dean gereeld saam met ons familie begin gholf speel. Selfs tydens skoolvakansies bestee Dean sy dae op die gholfbaan om te oefen,” vertel Izelle van Staden, sy ma.

Izelle vertel dat Dean tans aan verskeie gholfkompetisies deelneem. “Ons het hom hierdie jaar by die Mpumalanga Junior Gholf-unie geregistreer. Hy het verlede jaar met ‘n 31 voorgee begin en het onlangs tot ‘n 17 verbeter. Dean het die C-divisie-gholfkompetisie in Middelburg gewen en het ‘n tweede plek in die Chrome Club Champs behaal. Hy het ook aan die Sanlam CANSA Gholf-uitdaging deelgeneem, waar hy die C-divisie vir Chrome-gholfklub gewen het. Daarna het hy deurgedring na die Limpopo- streekfinaal by die Mogol-gholfklub in Lephalale (Ellisras),” voeg sy by.

“Ek is baie lief vir gholf en het ‘n groot passie daarvoor. My grootste begeerte is om deur harde werk eendag ‘n professionele gholfspeler te word,” vertel Dean.

“Hy het twee jaar gelede vir my gesê hy dink hy moet nou maar ophou skoolgaan en net gholf speel. Toe ek hom vra wie dan sy telkaart gaan optel, antwoord hy sy draer,” sê sy ma.

“Dean kry baie ondersteuning van die Chrome-gholfklub en daarvoor is ons baie dankbaar. Hy gaan volgende jaar in Middelburg skoolgaan, waar hy deel van die junior liga-gholfspanne sal vorm. So gaan hy meer blootstelling en afrigting kry. As ek kyk na wat hy die afgelope jaar bereik het sonder professionele afrigting, kan ek myself net indink hoe goed hy sal presteer sodra hy professionele afrigting kry,” voeg Izelle by.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button