Kruppel Buffels toer na Kaapstad vir Golden Oldies toernooi
Burgersfort se Kruppel Buffelsrugbyspan het op September 23 na Durbanville, Kaapstad getoer om aan die jaarlikse Golden Oldies-rugbytoernooi deel te neem. Die span is in 2006 deur Andries Vorster op die been gebring
Burgersfort se Kruppel Buffelsrugbyspan het op September 23 na Durbanville, Kaapstad getoer om aan die jaarlikse Golden Oldies-rugbytoernooi deel te neem. Die span is in 2006 deur Andries Vorster op die been gebring.
Vorster vertel dat hy nege jaar gelede besluit het om die Kruppel Buffels te stig, nadat hy van die Golden Oldiestoernooi gehoor het. “Hierdie groep gee oudrugbyspelers die geleentheid om jaarliks bymekaar te kom om saam die sport te geniet. Die toernooi gaan nie soseer oor die rugbykompetisie self nie, maar fokus op die sentrale tema van die Golden Oldies – pret, vriendskap en broederskap.”
Spelers moet ouer as 35 wees om te kwalifiseer en oudspelers kry die geleentheid om rugbyvaardighede van hul jonger dae te wys, terwyl hulle die wedstryde sonder ernstige wedywering tussen die spanne geniet.
“Ons het werklik ‘n baie lekker naweek gehad. Spanne regoor die land en selfs internasionaal kom bymekaar vir die Golden Oldies. Jy ontmoet ander rugbyspelers wat dieselfde passie vir die sport deel. Ons het lekker pret op die veld sowel as van die veld af gehad. Die toernooi vind elke jaar in ‘n ander provinsie plaas en ons sien sommer reeds uit na volgende jaar se Golden Oldies,” voeg Vorster by.

