Video: Seuntjie se trane oor vis kry 5 miljoen kyke
Klein Wilco Zoomers Botha se video doen steeds die rondtes op die web na bykans twee jaar.

MBOMBELA – “Daar’s vissies in die water, kyk hoe swem hul rond. Daar’s voëltjies in die lug en daar’s diere op die grond…”
So lui ‘n bekende Afrikaanse kleuterlied. Maar hoe gemaak as daar ‘n dooie vissie op die oewer van die dam uitspoel en jou vyfjarige vir die eerste keer so voor die werklikheid van die dood te staan kom?
In ouerpaar Cornelia Zoomers en PG Botha se geval, neem jy ‘n video! En so is die video wat bykans twee jaar gelede tydens ‘n dag-uitstappie na Kwênadam geneem is, al meer as vyf miljoen keer op die web gekyk.
In die video toon klein Wilco Zoomers Botha empatie met ‘n uitgespoelde vis, vertel wat hy dink met hom gebeur het en wanneer hy gevra word wat nou met die vis se hartjie gebeur het, antwoord hy dat dit na “Liewe Jesus” toe is.
Die oorspronklike video is op Zoomers en Botha se Facebook-blaaie gelaai, en was ook al op die TV-program Kwêla se bekende videokompetisie. Die nuutste weergawe wat nou weer op die sosiale mediaplatform die ronde doen, is deur ‘n ene Santuario Gaia gelaai, en lees in Spaans: “Kind sterf die dood van ‘n vis. “Die seun leer ons ‘n les in empatie vir alle diere spesies.”
Volgens Wilco se ma is hy baie lief vir diere – van goggas, voëls en visse tot olifante. “Hy en sy pa, PG Botha, vang gereeld vis en hy is mal daaroor – catch and release natuurlik.”
Dié gesin bring baie tyd in die natuur deur, en Wilco word al van kleintyd af geleer dat alle lewende diere belangrik is en na gekyk moet word. “Ons bewonder paddas en vang spinnekoppe en bekyk kewers. Ons maak ook nie slange dood nie,” vertel Zoomers.
Sy sê die vis wat op Kwênadam se oewer uitgespoel het moes die eerste keer wees wat Wilco besef het wat “dood” beteken, en dit het sy hart gebreek. “Voor ek die video begin neem het, het hy omtrent al ‘n halfuur oor die vis gehuil.
Ons het later maar sy aandag afgetrek sodat ‘n vriend die vis kon wegvat. Ons het toe maar ‘n klip in die water gegooi en gesê die vissie het weggeswem, want teen daardie tyd het Wilco al vir 40 minute gehuil en ek en my man was albei al in trane.”
Wilco word op 29 Januarie al sewe en ‘n boetie word in November verwag.
