Broers uitgenooi om op hoogste vlak te kompeteer
Twee van Komatipoort-swemklub se talentvolste swemmers, Mel Stronkhorst en sy broer Hans, is vereer deur uitgenooi te word om aan die Suid-Afrikaanse Swem-Grand Prix deel te neem. Die uitslae van Komati-swemklub se lede wat aan die afgelope Mpumalanga swemkampioenskappe deelgeneem het, is in verlede week se Corridor Gazette gepubliseer. Daarin is berig dat Mel Stronkhorst 10 …
Twee van Komatipoort-swemklub se talentvolste swemmers, Mel Stronkhorst en sy broer Hans, is vereer deur uitgenooi te word om aan die Suid-Afrikaanse Swem-Grand Prix deel te neem.
Die uitslae van Komati-swemklub se lede wat aan die afgelope Mpumalanga swemkampioenskappe deelgeneem het, is in verlede week se Corridor Gazette gepubliseer.
Daarin is berig dat Mel Stronkhorst 10 goue medaljes verower het, waaronder vyf rekords wat hy laat spat het van onder andere sy afrigter en jarelange vriend, Stephan Kuhn. Komatipoort se mense is trots op die jongman en daar word nog groot dinge verwag vanuit die plaaslike stal, of is dit nou die plaaslike swembad?
In Suid-Afrika, met ons geografiese isolasie, kry ons topvlak-atlete nie genoegsame blootstelling aan moeilike internasionale kompetisie nie. As deel van ‘n langtermyn-ontwikkelingsprogram vir 2014 tot 2020, is die konsep van ‘n Suid-Afrikaanse Swem-Grand Prix bekendgestel om die probleem aan te spreek en meer hoëvlakkompetisie vir ons plaaslike swemmers te verseker. Die reeks is gebaseer op tweedagbyeenkomste en word deur die verskillende SSA Affiliasies aangebied.
Daar word primêr op Suid-Afrikaanse atlete gefokus, maar internasionale swemmers sal ook in die reeks deelneem.
Dit stel meer Suid-Afrikaanse swemmers in staat om aan sterk kompetisie blootgestel te word en om hulle volle potensiaal te bereik.
Vir 2016 sal dit by die volgende plekke aangebied word:
1. Nelspruit, 9-10 Januarie
2. Durban, 5-7 Februarie
3. Port Elizabeth, 19-20 Februarie
4. Stellenbosch, 26-28 Februarie.
