Local newsNews

Gesin verloor besittings in vernietigende brand

‘n Gesin moes op 23 Januarie hulpeloos toekyk hoe hul tuiste en al hul besittings by Ant & Elephant in ‘n brand vernietig is.

Sonia Jack vertel dat sy die Saterdag ongeveer 08:00 in die kombuis gestaan en skottelgoed was het, toe ruik sy iets brand en ondersoek gaan instel. Haar seuntjie, Darius Jack (2) was in die badkamer en dogtertjie, Stefany Janse van Vuuren (1), in haar bababed. Haar man, David Janse van Vuuren, was reeds werk toe.

Jack merk toe dat daar rook uit die hoofslaapkamer kom en dat die regterkantste hoek van die bed, waar die bedlamp staan, in vlamme was. Sy het probeer om die vuur te blus, maar kon dit nie reg kry nie en in die proses haar hand gebrand. Sy het daarna haar kinders opgeraap, buitentoe gehardloop en begin skree.

Warren Macleod van Ant and Elephant, waar die gesin vir die afgelope 10 maande die huisie huur, was eerste op die toneel. Die buurman se besittings is vinnig ontruim, maar gelukkig het die vuur nie verder as Jack en Janse van Vuuren se tuiste versprei nie.

Die huisie by Ant & Elephant is deur vlamme verswelg na 'n brand in die slaapkamer ontstaan het.
Die huisie by Ant & Elephant is deur vlamme verswelg na ‘n brand in die slaapkamer ontstaan het.

Die brandweer is ontbied en PRU se Madeleine en Marius van Staden is ook geskakel om die brandwonde op Jack se hand te behandel .

“Almal het probeer help, maar ongelukkig het ons alles wat ons besit verloor. Al waarvoor ek dankbaar is, is dat my kinders niks oorgekom het nie,” het Jack gesê en vertel hoe hulle net kon kyk hoe hul tuiste deur vlamme verwoes word.

Die gesin wil graag hul dank betuig aan Simone en Warren Macleod, Manie van Wyk, Marius en Madeleine, asook almal wat hul bygestaan het. “Dit beteken baie dat daar mense soos almal van julle is wat nog help. Waardeer dit opreg,” het Jack gesê.

Die voorval is by die Hazyview polisie aangemeld en dit word ondersoek. Jack en die kinders bly tans by haar ouers in Sabie.

Enige gemeenskapslid wat graag iets wil skenk om die gesin te help op die been kom, kan Jack by 060-765-5312 skakel.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button