Só maak ‘n Dopper op ‘n Saterdag
Die Gereformeerde Kerk Nelspruit het 'n suksesvolle basaar aangebied.
MBOMBELA – Die Gereformeerde Kerk Nelspruit het Saterdag bewys dat Doppers kan feesvier soos min én dit geniet ook.
Was jy daar? Kliek hier vir foto’s van die Gereformeerde Kerk Nelspruit se basaar.
Die gemeente se jaarlikse basaar was nie net vir hul eie lidmate ‘n hoogtepunt nie, maar het ook honderde besoekers se naweek gemaak. “Ons het baie meer mense ontvang as in die verlede. Dit was ‘n baie lekker dag en ‘n basaar om te onthou,” het ds. Thys Erasmus Saterdagoggend gesê. Op daardie stadium was die dag nog nie eers halfpad verby nie.
Thys was self bedrywig by een van die stalletjies wat geregte soos kerrie en rys en skilpaadjies gemaak en verkoop het. ‘n Verskeidenheid aanloklike geure het uit pruttende potte ontsnap en talle besoekers nader gelok.
Op so ‘n warm dag was Sarel Venter en sy wyk se koeldrankstalletjie ‘n treffer. Die tombolatafel het nuuskieriges van alle ouderdomme gelok met ‘n interessante versameling wit olifante wat selfs plate, buiteligte en luidsprekers ingesluit het.
Groot tafels vol gewilde soetgoed soos peppermentkrisptert, melkterk en jellie-en-vlablokkies het menige soettand se dag gemaak. Die pannekoeke was uit die boonste rakke – die bakspan het beslis hulle storie geken.
Kinders was dol oor die kleurvolle lekkergoedstalletjie en kreatiewe houtwerk en ander spesiale handgemaakte aandenkings was ook gewild. Vars groente is ook teen billike pryse te koop aangebied. ‘n Gesellige atmosfeer het deurgaans op die kerkterrein geheers en die honderde wat daarheen gestroom het, het ‘n wyle daar vertoef en geselsies met ou bekendes aangekoop.
