Lekkerbekke geniet uitstekende ete by Magnolia
Watt het al die beloftes op sy spyskaart tot die letter gestand gedoen - eintlik nog beter.

WITRIVIER – Jamie Watt van Magnolia Restaurant by Casterbridge is ongetwyfeld een van daardie glans-chefs wat van tyd tot tyd hier in Laeveld sy verskyning maak.
Dit is hier nooit so dik gesprinkel soos eens op ‘n tyd in Johannesburg of Kaapstad, en selfs Franschhoek op ‘n stadium nie, ofskoon ons hier ook darem al ‘n paar name uit chef-geledere gehad het. Om nou skielik aan so ‘n paar van hulle te dink is daar John Jackson, van die Royal Malewane , Adri van Wieringen Walkersons, ons eie GT Lundie van Zest, Oliver Ruf vroeër by Olivers en Charles Meyer wat na my kennis steeds by Summerfields is.
En terwyl ek nou so name noem, was daar die afgelope vier jaar sedert die Laeveld Lekkerbekke sy ontstaan gehad het, ook ‘n paar eetplekke wat uitgestaan het, soos die onlangse ete by Magnolia, voorberei deur Jamie Watt. Ander was by Orange, Josephine’s op Barberton en gewis ook die keer by Zest.
Watt het al die beloftes op sy spyskaart tot die letter gestand gedoen – eintlik nog beter. As voorgereg het hy gestoomde garnale bedien met ‘n roomsous van ertepuree en bokmelkkaas met jong slaaiblaartjies bedruip met ‘n tamatiechorizo-olie.
Die hoofgereg was ‘n duo van pangebraaide beesfilet en ‘n porsie ontbeende beesrib wat oor ure stadig gebak is saam met kapokartappels gegeur met peperwortel en mosterd, met glans-jongwortels en ‘n rooiwynsous. Beesrib en borsstuk is gewis van die geurigste deel van die karkas, maar vra vir ‘n versigtige gaarmaakproses om dit sag en sappig op die bord te kry. So ook was die filet – ‘n mooi plomp snit, lekker grootte. Brosbruin buite en halfrou binne. Lanklaas was my vleis so perfek en na bestelling gaargemaak. Tien uit tien vir die braaier!
Die nagereg was sjokoladefondant met ‘n karamel-taaisous met korrels growwesout en tuisgemaakte karamelgeurroomys. Uitstekend ofskoon ‘n paar van my tafelgenote die gesmelte sjokoladeloopsous binne effe meer bitter wou hê.
Ook wat die wyn betref, was die aand ‘n groot bederf. Durbanville Hills se Rhinofields, iets waarmee die wynmense Distell, die Lekkerbekke net met baie spesiale geleenthede verwen. Dit was een keer by Orange, een keer by Zest en toe dié keer by Magnolia. Hier by ons is dit die drie grotes! Met die voorgereg was dit die Durbanville Hills Rhinofields Sauvignon Blanc wat die eerste keer geproe is en toe die Durbanville Hills Rhinofields Merlot wat so uitstekend saam met die hoofgereg was, dis moeilik om te beskryf!





















