Afskop-konsert vir Innibos propvol pret
Pluk jou pluiskeil en vere-boa uit, want die tema is fancy dress.

MBOMBELA – Wanneer die herfslug al dunner word en selfs die Laevelders truie uit die kas haal, is daar net een plek waar jy kan opwarm: Die gratis Innibos Loodskonsert.
Vrydag, 13 Mei, is dit weer tyd vir makietie wanneer Innibos sy propvol program vir vanjaar se #DroomGroot-kunstefees op die feesterrein by Hoërskool Bergvlam gaan bekendstel.
Pluk jou pluiskeil en vere-boa uit, want die tema is fancy dress – pure partytjie om Innibos se 13de verjaarsdag te vier, én boonop die ikoniese verjaardae van feesborge Laevelder (130 jaar), Huisgenoot (100 jaar), York Timbers (100), Sappi (80 jaar) en JacarandaFM (30 jaar). En as jy opdress, gaan groot – sommer baie groot: Die een met die beste uitrusting gaan daardie aand ‘n stewige R10 000 in harde kontant wen!
Bok van Blerk en Karlien van Jaarsveld gaan alle partytjiegangers se feesgees vir Innibos 2016 aanblaas, en oudergewoonte sal daar ‘n verrassing of twee wees. Die wenk is om uit te kyk vir die “droomtent” waar drome waar gemaak word…
Innibos is vanjaar van 29 Junie tot 2 Julie en kaartjies vir vertonings sowel as toegangskaartjies is reeds by Computicket beskikbaar.
Onthou dat voorskoolse en laerskoolkinders gratis toegang tot die feesterrein kry. Een van die hoogtepunte is beslis die kykNet Rockkonsert op Donderdagaand, 30 Junie, wanneer die RockRumoer-kompetisiewenners saam met Karen Zoid en ander gesoute rockers gaan optree.
Sien jou by die loodskonsert, en onthou om gees – en dalk ‘n hengse prys – te kom vang met jou fênsie dress. Want, as Innibos droom, is dit #DroomGroot! Vir meer inligting, gaan na www.innibos.co.za of skakel 013-741-5294.
