FeaturesInnibos NuusLifestyleLocal newsNews

Drome gróót tydens hierdie jaar se Innibos

Sandra de Lange was die waardige wenner van R10 000 met 'n indrukwekkende balrok uit koerantpapier

MBOMBELA – Die programbekend-stelling by Hoërskool Bergvlam Vrydagaand het maar net ‘n voorsmakie gebied van wat feesgangers van hierdie jaar se Innibos kan verwag.

Die boodskap was egter duidelik: die 13de aflewering van hierdie kunstefees gaan nié teleurstel nie.

Sowat 8 000 mense het Vrydagaand se konsert bygewoon. Die stemming was feestelik soos almal onder kombersies saamgedrom en gewag het vir die paartie om te begin. Uitgesoekte gaste is in die BBP-losie onthaal en het ondermeer gesmul aan die heerlikste pizza, Spur-burgers, skyfies en verskeie nageregte.

Andries Vermeulen, ‘n komediant van die Weskus, was die seremoniemeester. Feesgangers kan uitsien na sy eenmanstuk – Kô Lag ‘n Bietjie – by die Mhoba Rum Boma-kuierteater. Vuurdansers en narre het ook ondermeer die skare vermaak. Cobus Venter het ‘n stuk uit Groet die Grotheld opgevoer wat ook tydens hierdie jaar se Innibos op die planke sal wees.

Ampie het hierna die verhoog betree en feesgangers gehelp om die litte los te maak en die koue te verdryf. Hulle het nie op hul laat wag nie en lekker gelangarm op die skool se sportgronde.

Karlien van Jaarsveld het later in ‘n styfpassende swart kunsleerbroek die verhoog betree en dit was veral die jongmeisies en -manne wat droomverlore na haar gestaar het.

Lees ook: Twee Laeveldse rock-bands Innibos RockRumoer-finaliste

Feesgangers moes opdress om in aanmerking te kom vir R10 000. Die tema van hierdie jaar se fees is immers #droomgroot.

Van ‘n gewone cowboy-hoed as hooftooisel tot ‘n bridezilla wat jy nie in jou ergste nagmerrie wil teëkom nie – die gehoor het dit duidelik geniet om bietjie laf te wees en kostuums aan te trek.

Sandra de Lange moes haarself knyp om seker te maak dat sy nié droom nie toe sy as die waardige wenner van dié boerpot aangekondig is.

Lees ook: Innibos doen dit weer!

Niemand kon haar in ‘n balrok van koerantpapier wat etlike dae geneem het om aanmekaar te sit, miskyk nie.
Sy het gister by navraag gesê dat sy die geld met haar vriendin, Desiré van der Merwe, gaan deel. “Desiré het die rok gemaak,” het sy verduidelik.

“Ons het besluit om die rok te maak en ek het op Facebook gevra dat mense vir ons koerante moet skenk. Jenny Louw het ‘n hele sak vol Laevelders gegee. Desiré het toe ‘n hoepel met draad prakseer en begin om die koerante te plak,” het Sandra vertel.

Lees ook: Innibos verban dronk tieners

Desiré het egter hartprobleme en kan nie ver loop of swaar goed dra nie. Die rok is nogal gewigtig en Sandra het dit gedra. “Dit was ‘n ongemaklike gedoente. Ek kon die hele aand nie sit nie en dit was nogal moeilik om met die rok op die verhoog te kom om ons prys te ontvang,” het sy gesê. Die R10 000 is geborg deur Standard Bank en Innibos.

Sandra self het nog nie besluit hoe sy haar deel van die geld gaan gebruik nie. Jaco Earle het ook ‘n lekker prys gewen – R5 000 in kontant (geborg deur Mazda), motorhuur van Budget en ‘n naweek se verblyf by enige City of Road Lodge in die land. Bok van Blerk was hierna aan die beurt. Innibos is hierdie jaar 13 jaar oud en verskeie van sy borge herdenk ook hierdie jaar gróót verjaardae – Laevelder (130 jaar), Sappi (80), York Timbers (100), Huisgenoot (100) en Jacaranda FM (30). Buiten vir sy treffers, het Bok ook “Happy Birthday” vir hulle gesing. Konfetti is vanaf die verhoog geskiet en ballonne losgelaat – dit was voorwaar ‘n kleurryke aand.

Daar is ook 200 pryse weggegee in die onderskeie droomtente wat gewissel het van geskenkpakke met ‘n T-hemp en DVD tot tente en selfs tablette.

Ampie, Bok en Karlien het na die konsert gaan skouers skuur in die BBP-tent. Karlien wou seker wys dat sy darem ‘n ding of twee oor rugby geleer het terwyl sy met die liefling van rugby – Derick Hougaardt – getroud was en het speels ‘n tafelversiering met een van haar high polvye rondgeskop. Sy was duidelik in die bui vir ‘n kuier en het hierna ook in Rangos gaan gesig wys.

• Kyk hier na ‘n video van Vrydagaand se loodskonsert

Kyk hier na gallerye van Vrydagaand se feestelikhede

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button